Inwoners van Kuruman se krag glo onwettig afgesny

Inwoners van Kuruman wie se elektrisiteit glo weens wanbetaling deur die Ga-Segonyana-munisipaliteit afgesny is, word na bewering onwettig te na gekom.

Boonop word belasting op toegevoegde waarde (BTW) glo ook onwettig op munisipale belasting gehef.

So sê Wynand Boshoff, Noord-Kaapse voorsitter van die Vryheidsfront Plus.

Boshoff het Woensdag ‘n brief by die LUR van samewerkende regering in Kimberley afgelewer waarin hy vra dat die munisipaliteit se geldsake dringend bekyk moet word.

“Ons het reeds die munisipale bestuurder by die burgemeester weens wanadministrasie aangekla. Die burgemeester moet ondersoek instel en die departement van samewerkende regering moet by die ondersoek betrek word.

“Die munisipaliteit stuur reeds vir etlike maande nie meer rekeninge aan inwoners nie. Inwoners wat navraag gedoen het, kon niks van die amptenare wys word nie.

“Daar is chaos met die rekeningstelsel. Inwoners het toe maar betaal wat hulle dink hulle skuld. Intussen het sommige van hulle onwetend agterstallig geraak. Sommige inwoners het ‘n kort kennisgewing oor die beëindiging van dienste ontvang, en ander nie. Daar is ook ellelange lyste van sogenaamde oortreders by die munisipale kantore opgesit.”

Die betrokke inwoners se elektrisiteit is summier afgesny.

“Dit is ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) onwettig om nie rekeninge aan inwoners te stuur nie. Dit is ook onwettig om sonder enige aanmanings die dienste te beëindig. Inwoners moet ‘n sekere tyd gegun word om hul rekeninge te betaal,” sê Boshoff.

“Die raad mag geensins BTW op munisipale belasting hef nie.

“Die provinsiale en nasionale tesourie is ook verwittig en versoek om die munisipaliteit se geldsake te ondersoek.”
Theo Joubert, voorsitter van die Vryheidsfront Plus se Noord-Kaapse regskomitee, sal verdere klagte aanhangig maak indien die munisipaliteit nie die probleem oplos nie.

“Die party betreur dit dat die munisipaliteit van Ga-Segonyana nie net die wet oortree nie, maar ook weerlose verbruikers in die feestyd benadeel,” sê hy.

Die munisipaliteit se woordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie.


Enjoyed this post? Share it!