Ironies Vandag 85 jaar gelede vereer US Langenhoven

Vandag presies 85 jaar gelede op 24 Junie 1931 ken die Universiteit van Stellenbosch (US) ‘n eredoktorsgraad (Doctor Litterarum honoris causa) aan CJ Langenhoven toe.

In die lig van wat hierdie instelling en sy ‘bestuur’ slegs twee dae gelede gedoen het deur Afrikaans die deur te wys, is dit gepas om die eerbewys van die US aan een van Afrikaans se grootste geeste met die nodige respek te onthou.

Tydens die gradeplegtigheid gee prof. EC Pienaar ‘n kort skets van Langenhoven se  lewensverloop, sy bydrae tot die erkenning van Afrikaans en ‘n aanduiding van sy skeppende werk. Pienaar sê dat Langenhoven “’n algemene bekendheid verwerk het soos geen ander Afrikaanse skrywer vandag besit nie… Want senator Langenhoven skryf nie, maar hy praat, ook waar hy die pen hanteer. Sodat met waarheid van hom gesê kan word dat hy sy volk leer lees het.”

Langenhoven was aangedaan by die treffende woorde, want in Pienaar se aanbeveling het hy die erkenning gesien van wat sy lewensideaal was: om van Afrikaans ‘n soepel, lenige en natuurlike werktuig te maak en om daarin op ‘n natuurlike wyse sy gedagtes oor te dra. En dat hy sy volk leer lees het, was die hoogste lof wat hom toegeswaai kon word. (Met erkenning: Langenhoven. ‘n Lewe, deur JC Kannemeyer).

Uit Langenhoven se pen het Die Stem op 30 Mei 1918 gevloei en daarmee het hy vir sy Afrikanervolk ‘n onvergeetlike nalatenskap gelaat om te sing as ons volkslied, as ‘n gebed en nou as ‘n strydlied vir ons land, geloof, volk en taal:

 

Die Stem

 

Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,

Deur ons vér verlate vlaktes met die kreun van ossewa —

Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.

 

Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:

Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika.

 

In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees,

In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees,

In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf —

Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons af.

 

Vaderland! ons sal die adel van jou naam met ere dra:

Waar en trou as Afrikaners — kinders van Suid-Afrika.

 

In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,

In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou,

By die klink van huw’liks-klokkies, by die kluitklap op die kis —

Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.

 

Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd ja:

Om te lewe, om te sterwe — ja, ons kom, Suid-Afrika.

 

Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:

Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou —

Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:

Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.

 

Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:

Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

Bron: Vryburger

Enjoyed this post? Share it!