Is jy moeg vir ESKOM, wel, Sonkrag word bekostigbaarder

As ‘n son-elektrisiteitstelsel met ‘n leeftyd van 25 jaar oor slegs 10 jaar afbetaal word, is dit nou reeds goedkoper as Eskom. Tel 20% by die Eskom-prys en probeer die ongerief van kragonderbrekings op kritieke tye bereken, dan gaan Eskom se betalende kliënte eerder energie-selfstandigheid kies.

So sê dr. Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap.

Hy sê terwyl Eskom om ‘n effektiewe tariefverhoging van 19.9% aansoek doen, ly inwoners van nie-betalende munisipaliteite onder ongelyke beëindiging van kragtoevoer.

Hy sê aangesien dit betalende verbruikers is wie se krag onderbreek word, is dit nog ‘n manier waarop Eskom sy eie doodsvonnis teken.

“Die beplande onderbrekingslys van 3 Oktober’ wat deur Eskom uitgereik is, se gevolge is tans besig om in drie Noord-Kaapse munisipaliteite te ontvou. Dit is Tembelihle (Hopetown en Strydenburg), Renosterberg (Vanderkloof, Philipstown en Petrusville) en Siyancuma (Douglas en Griekwastad).

“In ten minste twee van die munisipaliteite het inwoners bevestig dat slegs sekere woonbuurte se krag onderbreek word. Ander woonbuurte het óf lank reeds voorafbetaalde meters en koop krag direk by Eskom, óf krag word gewoonweg nie afgeskakel nie.

“Die strategie is moontlik dat betalende verbruikers druk op hul munisipaliteite moet plaas om rekeninge te betaal, maar die wysheid daarvan kan betwyfel word. Huishoudelike aanlegte vir hernubare energie is reeds goedkoper as Eskom-krag.

“Die VF Plus in die Noord-Kaap voorsien dat Eskom eersdaags nie meer ‘n besigheid sal wees nie, maar ‘n welsynsliggaam wat krag gratis voorsien aan diegene wat nie hulle eie stelsels kan bekostig nie.

“Die voordeel hiervan vir Eskom sal wees dat niemand hom dan meer aan besigheidstandaarde sal meet nie,” sê dr. Boshoff.


Enjoyed this post? Share it!