Is SA op die rand van ‘n rampspoedige grondtragedie?

Die retoriek en ideologies gedrewe uitsprake en feller wordende “afvat”-dreigemente rondom grond, en meer spesifiek plase, kan nie langer geïgnoreer word nie.

Sekere landbou-organisasies en kundiges het tot onlangs nog nie histeries hewig gereageer op opruiende uitsprake rondom grond deur sekere politici en ander magshongeres en magsdronkes binne die ANC-regering nie.

Miskien kan dit toegeskryf word aan ’n naïewe hoop of persepsie dat Suid-Afrika nie dieselfde pad as Zimbabwe sal loop nie of dat daar darem ’n paar “regdenkendes” binne die ANC is wat betyds sal besef dat ’n verbreking van grondwetlike beginsels soos die beskerming van eiendomsreg fataal vir die toekoms van die land, die ekonomie en die sogenaamde demokrasie sal wees.

Soos die ekonoom Dawie Roodt dit egter onlangs oor die voorgestelde wetwysigings oor grond gestel het: “Eers was dit net sotlike idees, maar nou begin dit werklikheid word.”

Die voorgestelde wetwysigings, wat pas gepubliseer is, beklemtoon die staat se bedoeling om in die toekoms baie, baie meer mag en sê oor grond te hê.

Dié omstrede wetgewing wat onder meer deur die sakeregte-waghond AfriSake teengestaan word, het ten doel om die grootte van plase te beperk, grond te verdeel en te onteien wat (kwansuis) “onwettig” bekom is asook ’n verbod te plaas op buitelanders om enige grond te besit.

Soos soveel keer in die verlede probeer die ANC-regering voorhou dat die bedoeling met dié nuwe wetgewing en grondhervorming die regstelling van “ongelykhede” is.

Suid-Afrikaners het egter die laaste paar jaar gesien hoeveel bereik is met die “regstelling van ongelykhede” en tot watter mate dié praktyke tot die verdere benadeling, uitsluiting en absolute verarming van die kwesbaarste van die kwesbares gelei het. Die ANC-regering doen en voel niks vir die land se burgers nie.

As Suid-Afrika enigsins ’n positiewe rekord gehad het oor hoe suksesvol “grondhervorming” die afgelope dekade was en iets kon wys vir die miljarde rande wat hieraan bestee is, sou mens seker nog ’n flou argument oor die saak kon uitmaak.

Die werklikheid is egter dat niemand meer glo dat die korrupte, oneerlike, sosialisties ingestelde staatskapers en plunderaars binne én buite die ANC ’n snars vir die land of die armes omgee nie. Dit gaan suiwer oor selfverryking en wat diegene in magsposisies vir hulself kan inpalm voor hulle die gemakstoele moet ontruim of daaruit gelig gaan word. Dit sluit pres. Jacob Zuma, wat die afgelope weke onder enorme druk is en ook deuntjies van grondonteiening sonder vergoeding sing, in.

Ekonome waarsku al jare dat ondemokratiese en onwettige besluite rondom grond, eiendomsreg en grondonteiening beleggers sal afskrik en die land onberekenbare skade sal berokken.

Dit is toenemend duidelik dat Zuma en sy ondersteuners grondonteiening sonder vergoeding as die voorkeuroplossing vir die grondhervormingsprobleem sien. Die ander opsie is natuurlik om die Grondwet vir dié doel te wysig, soos wat adjunk-president Cyril Ramaphosa, onlangs in die parlement opgemerk het én wat die tradisionele leiers Zuma ook aanbeveel om te doen.

Dis uiteraard die maklike uitweg, want dis makliker om ANC-volgelinge op grondvlak met leuens oor gronddiefstal aan die neus rond te lei as om te moet verduidelik waarom soveel van die regering se grondprojekte totale mislukkings is en waarom die regering nie daarin slaag om die lewensgehalte van mense in die algemeen te verbeter nie. En natuurlik kan dit ook sommer die aandag aflei van die miljoene hektaar staatsgrond wat die ANC nie doeltreffend kan bestuur, beheer oor het, of erger nog, selfs kennis van dra nie.

Die ANC verkondig graag dat wit kommersiële boere nog steeds feitlik alle bewerkbare landbougrond besit. ’n Omvattende oudit het egter onlangs aangedui dat 34,5% van die landbougrond in die land in swart besit is. Swart eienaars besit tans 34,5% van die bewerkbare landbougrond, terwyl wit kommersiële boere 65,5% bewerk en verbou.

Johann Bornman, ’n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions (ADS), het die oudit in samewerking met Landbou.com en Landbouweekblad gedoen.

Uit die navorsing en ontledings wat gedoen is, dui syfers daarop dat nagenoeg 59 miljoen hektaar landbougrond, oftewel 48,8% van die totale landoppervlakte, in kommersiële boere se besit is. In totaal besit swart mense na raming sowat 48 miljoen hektaar, of 39,6% van die land se oppervlakte.

Bornman het gesê as die staat as teiken 40% van die landbougrond in Suid-Afrika – tans in wit hande – in swart mense se besit wil stel, nog 23,8 miljoen hektaar grond oorgedra moet word. Dit sal swart mense dan, in terme van landbougrond, met 60,7% van die grond laat, terwyl wit kommersiële boere se aandeel in grondbesit in die land tot 39,3% sal daal.

Ondanks dié insiggewende inligting, is dit ’n uitgemaakte saak dat dreigemente en aanhitsing rondom grondonteiening sonder vergoeding en selfs onwettige grondgrype in die komende maande, in aanloop tot die verkiesing van die nuwe ANC-leierskap in Desember en die algemene verkiesing in 2019, ongekende afmetings gaan aanneem. Ons het immers met politici te doen wat nou ’n stryd om lewe en dood vir politieke oorlewing voer.


 

Enjoyed this post? Share it!