Jeugdiges van Vrystaatse Goudveld stop bus, beroof passasiers en stig brand

Jeugdiges het Maandagaand klaarblyklik die wydverspreide onluste op die Vrystaatse Goudveld uitgebuit om ’n Greyhound-bus buite Allanridge voor te keer, die 46 passasiers te besteel en die bus aan die brand te steek.

Van die passasiers is deur klippe getref toe die jeugdiges die bus bestook het en sommige is aangerand.

Drie van die slagoffers, Gerhard de Kock, Simon Maboso en Bekeilel Agono, ’n Ethiopiese burger, kan eers Dinsdagaand ’n bus in Kroonstad haal om hul reis voort te sit.

De Kock en Agono het ligte beserings opgedoen en was in die hospitaal opgeneem terwyl Maboso gehoop het die polisie kan dalk nog van sy besittings opspoor voordat hy na Colesberg vertrek.

Maboso sê die busbestuurder moes omstreeks 23:00 net buite Allanridge op die R30 skerp rem en uitswaai omdat groot klippe oral in die pad gepak was.

Twee klippe het, die oomblik toe die bestuurder spoed verminder, die bus se voorruit getref en hy moes noodgedwonge stilhou.

“Hordes mense” het uit die donker op die bus toegesak en klippe het van alle kante op die bus gereën. Woedende mans het die bus geruk en probeer omgooi. Van die passasiers het geskat daar was tussen 200 en 300 mense.

“Dit is net ’n genade dit was ’n dubbeldekkerbus anders het hulle dit reggekry,” sê Maboso.

In die bus het mense plat gelê en hardop gebid terwyl jy kon hoor hoe klippe die kante van die bus tref, sê Maboso.

Die bus se deure is oopgeruk en die passasiers op die onderste vlak is eerste aangeval. Selfone, beursies, geld, baadjies, handbagasie en selfs padkos is met geweld by passasiers afgeneem.

“Mense is geskop en geslaan en selfs van hul skoene is gevat,” sê Maboso.

Hy sê van die passasiers het gevrees dat die bus aan die brand gesteek sou word omdat die groep baie aggressief was. Hulle het besluit dat almal saam die bus gaan verlaat en uit die bus begin klim.

Buite het groot verdeeldheid onder die omstanders geheers. Talle mense het die aanvallers gekeer om die passasiers leed aan te doen en selfs hulp aangebied.

Die aanvallers, gewapen met grawe en pikke, het die sleepwaentjie oopgebreek en dié bagasie ook gesteel.

Maboso sê die passasiers het in die pad begin wegstap en was ongeveer 300 m van die bus toe ’n petrolbom gebruik is om dit aan die brand te steek.

Weldoeners uit die Nyakallong-township het die passasiers opgelaai en na die polisiestasie in Allanridge geneem. Nyakallong se polisiestasie is reeds Maandagmiddag met klippe bestook en was gesluit.

Maboso sê ’n Rastafariër, Lebogang Ditaunyane, het mense met sy bakkie na die polisiestasie geneem.

Die passasiers was uit die noordelike provinsies na verskeie bestemmings op pad. Van hulle sou in Bloemfontein afklim terwyl ander tot in Mosselbaai in die Wes-Kaap sou reis.

Tania Barnard, van die TL Barnard-busagentskap in Welkom, sê die meeste van die passasiers is met ’n bus teruggeneem na hul tuisdorpe. Die mense het alles verloor en het nie kans gesien om hul reis voort te sit nie.

Van die ander mense het reeds vroeg Dinsdag op ’n ander bus geklim wat ook tot in Mosselbaai sou ry.

Jasen Smallberger, ’n woordvoerder van Greyhound, sê die maatskappy was bewus van die betoging, maar is ingelig dat daar nie probleme op die R30 is nie.

Brig. Motantsi Makhele, ’n polisiewoordvoerder in Bloemfontein, het die voorval bevestig, maar teen gisteraand vroeg nog nie op navrae gereageer nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!