Jimi Matthews praat oor die Tiran Hlaudi

‘Hlaudi se beheer het my gewurg’

Hlaudi Motsoeneng is ’n tiran wat homself openlik beskryf as ‘die alfa en die omega’ van die SABC, het Jimi Matthews aan gesê.

Matthews sê sy besluit om te bedank is geneem ná ’n lang wandeling in die park naby sy huis in Johannesburg verlede Sondagmiddag.

“Dit het my net getref dat daar geen manier is wat ek kan terugkeer na daardie gebou (in Auckland Park) nie.

“Ek het daardie aand huis toe gegaan en my bedankingsbrief geskryf. Ek sou nie ’n kennistyd werk of onderhandel oor ’n skeidingspakket nie.”

Hy het sy bedankingsbrief dieselfde aand nog gestuur en Maandagoggend die brief op sy Twitter-profiel geplaas.

In die brief skryf hy onder meer: “Vir baie maande het ek die waardes wat so baie vir my beteken gekompromitteer onder die wanindruk dat ek meer doeltreffend binne die SABC kan wees . . . In die proses het die heersende afbrekende atmosfeer ’n negatiewe invloed op my morele oordeel gehad en my aandadig gemaak aan talle besluite waarop ek nie trots is nie.”

Baie SABC-joernaliste stem saam en sê Matthews was aandadig aan die vergrype van die Motsoeneng-regime. Jimi Matthews: “Dit het onmoontlik geword om asem te haal.”

Hulle vertel hy sou byvoorbeeld stem-insetsels uit bulletins sny om die sigbaarheid van sekere politici te verminder.

Nog ’n joernalis het aan Rapport vertel: “Dit is Jimi wat met stories gepeuter het en geweier het om dit uit te saai.”

Hy het nasionale nuusbulletins verswak deur vier goeie redakteurs – Crosby Amos, Ronel van Zyl, Faith Daniels en Clive Govender – te skors, vertel personeel. Die vier is tans gewikkel in ’n arbeidsgeskil met die uitsaaier. Dit is dalk voorvalle soos dié wat Matthews genoop het om sy brief af te sluit met die woorde: “Ek wil ook om verskoning vra aan baie mense wat ek in die steek gelaat het deur stil te bly wanneer dit nodig was my stem te laat hoor.”

Terwyl Matthews waarnemende uitvoerende beampte was, het die raad redaksionele riglyne verander om die bedryfshoof – Motsoeneng – die hoofredakteur te maak wat hom onbelemmerde mag oor redaksionele inhoud gegee het.

Matthews sê nou: “Die SABC is ’n openbare instelling en daar was openbare verwagtinge van my. My verskoning is omdat ek versuim het om daardie verwagtinge te eerbiedig.”

Terwyl SABC-personeellede nog duisel oor die afgelope week se gebeure hou Matthews se telefoon nie op lui nie en sy SMS-inboks is so vol dat dit nie meer boodskappe aanvaar nie.

’n Bekende geestelike leier, personeel en selfs politici binne die regerende driepartyalliansie het hom al gebel met gelukwensings met sy standpunt.

Agt joernaliste, waaronder RSG se Foeta Krige en Suna Venter, is steeds geskors omdat hulle hul uitgespreek het teen die SABC se nuussensuur.

Onder diegene wat hom nie gebel het nie, was Muthambi en die ANC.

Die ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa, se reaksie was: “Dit is duidelik dat (Matthews se bedanking) ten doel het om by te dra tot die narratief dat die SABC in wanorde gedompel is. Hy het toegelaat om homself te laat misbruik as instrument om die integriteit van die SABC aan te val.”

Muthambi het gesê die tydsberekening van Matthews se bedanking was verdag.

Sommige kommentators het daarop gewys dat hy 61 jaar oud is en gesê hy het sy oog gehad op ’n hoër pakket met meer aftreevoordele. Hieroor lag hy net. “Ek draai my rug op ’n salaris van R2 miljoen per jaar en bedank sonder enige uitbetaling of goue handdruk en geen nuwe pos wat wag nie.

“My mediese fonds is gister beëindig. As ek dit gedoen het vir ’n beter finansiële beloning, het ek baie sleg gedoen.

“Die rede waarom ek bedank het, is baie goed deur Zizi Kodwa verwoord. Wat het die SABC se interne probleme met die ANC te doen?” Hoe voel hy ná die onstuimige week? “Verlig,” sê Matthews wat gereeld tydens ons onderhoud oorval word deur mense wat hom sterkte toewens. “Wat nou?” wil ek weet. “Wat is volgende is die verkeerde vraag. Dit verlam ’n mens.

“Ek het die ongunstige reaksie bele

Bron: Rapport


 

Enjoyed this post? Share it!