Jogurt verlaag jou risiko vir hoëbloeddruk

 

Is jy moeg vir graankos en sat vir pap? Dan is dit dalk tyd om jou ontbytroetine aan te pas deur jogurt by te voeg.

Die rede hiervoor is dat daar bevind is vroue wat die suiwelhappie ten minste vyf keer per week by hul dieet inpas, het ’n laer risiko om hoë bloeddruk te kry – die risiko is een-vyfde laer.

Dit was ’n yslike studie waartydens data van 240 000 verpleegsters tussen 25 en 55 jaar oud gebruik is.

Dit is by inligting van 51 000 mense in die gesondheidsprofessie gevoeg.

Hierdie keer was die betrokkenes mans, hoofsaaklik in die ouderdomsgroep 40 tot 75 jaar.

Die navorsing is deur die Amerikaanse nasionale suiwelraad gefinansier.

Die bevindings was dat vroue wat vyf of meer keer per week jogurt eet, se risiko vir hoë bloeddruk een-vyfde laer is as dié wat dit nie eet nie.

Die uitwerking was meer opmerklik by vroue, aangesien mans nie so dikwels jogurt geëet het nie.

Bowendien het die mense wie se diëte vrugte, groente, boontjies en neute ingesluit het, selfs ’n laer kans gehad om die siekte te ontwikkel.

By hierdie groep het dit met 31 persent gedaal in vergelyking met mense wat net een keer per maand jogurt geëet het.

“Geen voedselsoort kan uitgesonder word as ’n magiese kuur nie, maar die insluiting van jogurt by ’n andersins gesonde dieet skyn te help om die risiko vir hoë bloeddruk by vroue op die lang termyn te verminder,” het Justin Buendia, van die Boston Universiteit se mediese skool in Amerika, verduidelik.

“Ek glo dit is tot nou die omvattendste studie van sy soort wat die spesifieke uitwerking van jogurt op bloeddruk ontleed.”

Die bevindings is by ’n konferensie van die Amerikaanse Hartvereniging voorgelê, maar tans is daar geen besonderhede aangaande die rede waarom jogurt so ’n impak het op bloeddruk nie.

Hoë bloeddruk, wat ook as hipertensie bekendstaan, word soms nie behandel nie aangesien mense nie weet hulle ly daaraan nie.

Dit is egter ’n groot bekommernis ten opsigte van gesondheid omdat dit hartversaking, niersiektes, hartaanvalle, demensie en beroerte kan veroorsaak.

Dit raak meer as een uit elke vier volwassenes in Brittanje en na raming ly 5 miljoen mense onwetend daaraan.

Bloedvate het druk nodig om die bloed deur jou liggaam te pomp, maar as die druk te hoog is, is daar verhoogde stremming op die are en op die hart.

Dit is ook nie die eerste keer dat jogurt geloof word vir sy gesondheidsbates nie.

In die verlede is die kossoort verbind met die verlaging van cholesterol, hulp met die volhouding van gesonde bloedsuikervlakke en die bewaking teen osteoporose.

Dit is ook belangrik om jou suiwelnagereg versigtig te kies aangesien sommige variëteite propvol vet, suiker en versoeters is.

Deur Huisgenoot – Saskia Hill op Maart 8, 2016

 

Enjoyed this post? Share it!