Jong Emily Hobhouse loop in boereheldin se spore

Sowat 90 jaar nadat die geliefde Emily Hobhouse dood is, het ’n gelyknamige familielid na haar graf teruggekeer.

Emily Hobhouse (19) het al die pad van Bath, Engeland gekom om te sien watter invloed haar groot-groot tante tydens die Anglo Boereoorlog (ABO) op die boere gehad het.

EMILY HOBHOUSE SE STORIE IS ’N STORIE VIR DIE HELE MENSDOM EN NIE NET VIR SUID-AFRIKANERS NIE.
Robert Eales

“Sy is nie so welbekend in Engeland soos hier nie,” sê sy terwyl sy ’n lastige blond krul uit haar gesig vee.

Sy het sterk gelaatstrekke wat baie aan die boereheldin herinner.

 “Daarom was ek verbaas oor hoe mense reageer as hulle hoor ek is familie van haar.”

Vir haar is dit ’n geweldige emosionele reis om deur die Oorlogsmuseum in Bloemfontein te stap en te sien watter belangrike rol Hobhouse sr. vir die Afrikaners gespeel het.

“Ek is hierdeur geraak. Dit is hartverskeurend om te sien hoe ’n nasie vernietig is, maar die manier hoe die Afrikaners weer opgestaan het ná die oorlog, is indrukwekkend.”

Hobhouse jr., wat in September vanjaar haar studies in internasionale betrekkinge in Londen begin, het op haar eie na Suid-Afrika gekom om haar groot-groot tante se voetspore te volg.

Sy glo daar is ’n rede hoekom haar pa haar na die boereheldin vernoem het.

“Niemand in Engeland weet regtig wie sy was nie, daarom kon ek myself nie met haar vereenselwig nie.

“Dit was eers toe ek regtig navorsing begin doen het en agtergekom het wat sy eintlik tydens die ABO gedoen het dat ek besluit het: Ek wil soos Emily wees. Ek wil goed wees vir ander mense.”

Verskeie organisasies was Saterdag deel van ’n seremonie waar kranse by die Burgermonument neergelê is.

Hobhouse jr. het self ’n krans by die monument gelê.

“Hierdie is regtig ’n spesiale geleentheid, want só baie mense is dood en dit is belangrik dat elkeen onthou word.”

Robert Eales, ’n gebore Suid-Afrikaner wat in Australië bly, het Saterdag sy boek, The Compassionate Englishwoman: Emily Hobhouse in the Boer War, in Suid-Afrika bekend gestel.

“Emily Hobhouse se storie is ’n storie vir die hele mensdom en nie net vir Suid-Afrikaners nie,” sê hy.

“Sy het nooit mense geklassifiseer nie – al was dit in die midde van ’n oorlog. Daar was nooit ’n ‘hulle’ en ’n ‘ons’ nie. Ons kan vreeslik baie by haar leer.”

Hoewel Hobhouse jr. binnekort weer moet terugkeer na Engeland is daar nog baie plekke waarheen sy wil gaan, onder meer konsentrasiekampe in die Vrystaat.

“Ek wens ek kon nog langer hier bly en by al die plekke uitkom. Dit is wonderlik om die persoonlike verbintenis te beleef.”

In ’n groot oomblik toe Miemie Wessels van Bloemfontein aan haar ’n kralehalssnoer en gebreide sokkies wys wat Hobhouse sr. self aan Wessels se ouma in die konsentrasiekamp gegee het, was Hobhouse jr. spraakloos.

“Dis sulke goed wat my laat besef hoe baie sy vir Suid-Afrikaners beteken het. Dit is baie spesiaal,” sê sy.

Bron – Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!