Kaaskoek met kondensmelk en sjokoladesous

G’n gaarmakery nie en maklik om te maak. Bedruip met die sjokolade deur ’n teelepel of spuitsak te gebruik.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Afkoel: 3 uur

300 g volgraansjokoladekoekies, gekrummel
100 g botter, gesmelt
50 ml roomkaas, kamertemperatuur
1 x 385 g-blik kondensmelk
180 ml (¾ k) room, geklop
3 gelatienblare, geweek in genoeg koue water om dit te bedek
200 g donkersjokolade, gesmelt
45 ml (3 e) room
kakao vir oorstrooi

  1. Meng die koekiekrummels en gesmelte botter in ’n bak. Druk dit vas op die bodem van ’n 20 cm-losboompan. Sit in die yskas tot benodig.
  2. Klits die roomkaas en kondensmelk in ’n ander bak tot goed gemeng. Vou die geklopte room by die mengsel in.
  3. Voeg die geweekte gelatien by en vou dit vinnig by die mengsel in. Gooi die mengsel in die pan en plaas 3 uur in die yskas of tot dit gestol het.
  4. Haal die koek uit die yskas en plaas dit op ’n opdienbord. Smelt die sjokolade in ’n glasbak oor ’n pot water wat prut en roer die room by. Bedruip die sjokolade oor die koek. Bestrooi liggies met kakao, sny en sit koud voor.

Deur Hope Malau
Foto: David Briers

Huisgenoot Augustus 12, 2015


 

Enjoyed this post? Share it!