KAN ‘N WANTROUEMOSIE IN ZUMA HIERDIE KEER SLAAG?

Eerskomende Vrydag trek almal landwyd swart aan en hou optogte teen Zuma. Die DA se Mmusi Maimane hou koorsagtig vergadering met opposisiepartye om steun te werf vir ‘n wantrouemosie in Zuma en om te probeer om hom in ‘n staat van beskuldiging te stel.

Wat beteken dit?

Daar is drie moontlikhede:

1) ‘n Mosie van wantroue in die president
2) ‘n Mosie van wantroue in die kabinet
3) ‘n Staat van beskuldiging vir die president

Om ‘n wantrouemosie deur te voer moet die helfte van die Parlement plus een daarvoor stem. Uit die 400 Parlementslede moet daar dus 201 ten gunste van ‘n mosie stem. Slaag ‘n mosie van wantroue in Zuma, word hy uit sy amp onthef en sy kabinet ontbind. Die parlement kies dan ‘n nuwe president vir die land en hy stel ‘n nuwe kabinet saam. Niks verander dus nie – daar is net ‘n nuwe president met ‘n nuwe kabinet wat nog steeds voort regeer volgens ANC beleid.

Word ‘n wantrouemosie in die kabinet deurgevoer, moet die Parlement ontbind en ‘n verkiesing uitgeroep word.

As die president in ‘n staat van beskuldiging geplaas word, word hy geskors uit sy amp, sy regering ontbind en hy verloor sy voordele as president lewenslank. Hiervoor moet daar egter ‘n tweederde meerderheid van Parlementslede stem.

Hoe lyk die verspreiding van setels in die Nasionale Vergadering:
foto

Dit beklemtoon maar net hoe swak die opposisie teen die ANC is. AL die partye SAAM het slegs 151 setels teenoor die ANC se 249. Dit beteken dat, sou al die opposisiepartye vir ‘n wantrouemosie stem, hulle nog 50 ANC Parlementslede moet ompraat om ook teen Zuma te stem.

‘n Staat van beskuldiging gaan derhalwe nie gebeur nie. 267 Parlementslede sal daarvoor moet stem. Al stem die 151 opposisielede daarvoor, is dit ondenkbaar dat hulle 115 ANC Parlementslede omgepraat gaan kry om te stem daarvoor dat hulle hul eie werk verloor. Om dieselfde rede sal ‘n wantrouemosie in die kabinet ook nie slaag nie. Die totale opposisie sal 50 ANC lede moet ompraat om ook te stem daarvoor dat die Parlement effektief ontbind en ‘n nuwe verkiesing gehou word – wat beteken dat hulle dalk nie weer herkies word nie

Die enigste (betreklike vae) moontlikheid is dat ‘n wantrouemosie in Zuma self kan slaag. Maar ook net indien 50 ANC Parlementslede teen hulle eie party stem. Toegegee is die tyd gunstig daarvoor – daar is geweldige verdeeldheid binne die ANC en ook tussen die ANC en die SAKP. Maar ons moet onthou dat elkeen van Zuma se kabinetslede ook sy/haar eie aanhangers en gevolg het en dat Zuma se ampstermyn in elk geval oor 18 maande verstryk.

Sou enige ANC lid dus nou die risiko loop om ‘n wantrouemosie te steun, en indien dit misluk sy eie posisie op die spel te plaas, terwyl ‘n nuwe ANC president in elk geval na 2019 ‘n nuwe kabinet gaan saamstel? Dit is hoogs onwaarskynlik.

Die tyd sal moet leer hoe lojaal die ANC Parlementslede aan hulle party is, maar op hierdie stadium lyk dit nie juis of Zuma gevaar loop om sy sagte stoel onder hom uitgeruk te kry nie!


 

Enjoyed this post? Share it!