Kannibaal: ‘Ek is moeg van mensvleis eet’ – Hoe siek is dit net nie?

Vier vermeende kannibale het Maandag in die landdroshof in Estcourt, KwaZulu-Natal, verskyn op voorlopige aanklagte van moord en die besit van menslike oorskot.

Hulle bly in polisieaanhouding tot die saak op Maandag 28 Augustus hervat, wanneer hulle na verwagting formeel om borgtog aansoek sal doen.

Lt.kol. Thulane Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die saak word nog ondersoek en die verdagtes se name kan nie in dié stadium bekend gemaak word nie.

Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder, sê die vier is almal in die naweek in hegtenis geneem nadat ’n verdagte Vrydag by die Estcourt-polisiekantoor ingestap en vir die beamptes aan diens gesê het hy is moeg daarvoor om mensvleis te eet.

“Toe hy ondervra is, het die man ’n deel van ’n menslike been en ’n hand aan die polisie oorhandig,” sê Mbhele.

Verdere ondersoeke het die polisie gelei na ’n huis in die Rensburgdrift-omgewing in Estcourt, waar hulle deur ’n “slegte reuk” begroet is.

Die polisie het op nog menslike oorskot op die perseel afgekom.

Die polisie het die man wat by die polisiekantoor kom bieg het, dadelik in hegtenis geneem. Die ander verdagtes is Vrydag en Saterdag in Estcourt en Amangwe gearresteer.

Minstens een van hulle het nog menslike oorskot by hom gehad toe die polisie toegeslaan het.

Volgens Mbhele het die verdagtes na bewering ’n vrou verkrag en vermoor, haar lyk in stukkies opgesny en daarvan geëet.

Die polisie probeer vasstel of die verdagtes ook ander slagoffers op dié manier vermoor het en moedig die families van vermiste mense in die omgewing aan om na vore te kom sodat monsters geneem kan word om vir DNS-toetse te stuur.

’n Bron na aan die ondersoek sê die vermoede bestaan ook dat die verdagtes moontlik grafskending gepleeg het.

“Hulle word voorlopig aangkla van verkragting, moord en aanklagte van die besit van menslike weefsel.”

Mthembeni Majola, plaaslike wyksraadslid, sê hy kon sy oë nie glo nie toe een van die verdagtes aan die polisiebeamptes die plek uitwys waar hulle ’n vrou begrawe het.

Die slagoffer was volgens hom onder groot rotse begrawe en gespesialiseerde masjinerie moes gebruik word om dit te verwyder.

“Hulle het ons ook liggaamsdele in een van die huise gewys en erken hulle wag dat die liggaamsdele begin ontbind en maaiers lok. “Blykbaar maak hulle op ’n manier geld uit die maaiers,” sê Majola.

Deur: Deur Sabelo Nsele, The Witness


Enjoyed this post? Share it!