Kerke wil oud-soldate laat “versoen”

churchKerke wil oud-soldate laat versoen

Soldate, en in besonder “Afrikaanse wit mense”, gaan deur bepaalde kerke betrek word om ‘n sogenaamde versoeningsveldtog vanaf 11 Junie tot 16 Desember in Soweto te hou.

 

Die veldtog is gemik op die “diensplig-generasie” en beoog om versoening en heling te bewerkstellig vir diegene wat volgens die inisieerder daarvan, dr. Pieter Bezuidenhout, “diep en seer het” oor die Grensoorlog.

 

Die hele idee het by Bezuidenhout, ‘n weermagkapelaan in Bloemfontein, ontstaan toe hy met eerwaarde Frank Chikane oor die saak gesels het. Chikane se politieke betrokkenheid en aandeel in die Kairos-dokument is bykans net so bekend soos sy lidmaatskap van die ANC en die Internasionale Apostoliese Geloofsending.

 

Uiteindelik is ‘n memorandum omtrent die twee se gesprek aan onder andere lidmate van die Apostoliese Geloofsending (AGS), die NG Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHKA) gestuur.

 

Volgens die memorandum word 11 Junie se saamtrek by Orlando-stadion, “doelgerig beplan”, om soveel as moontlik wit mense te betrek, anders is die dag sinloos. Alhoewel die  datum vervroeg is weens die herdenking van die 1976-opstande in Soweto, sal daar glo wel ‘n interkerklike vroegoggenddiens op 16 Junie gehou word om die gebeure te herdenk.

 

Die tema  van die byeenkoms is klaarblyklik, “Sing ’n nuwe (Suid-Afrika-) lied” – na aanleiding van Psalm 98. – Bron: Vryburger

Enjoyed this post? Share it!