Kersie-en-sjokolade-roomysbom

Kersie-en-sjokolade-roomysbom

Kersie sjokolade roomys
Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 1 uur, plus vriestyd

• 2 liter goeie vanieljeroomys
• 50 g amandels, gerooster en grofgekap
• 1 pak karamelgevulde rolkoekies
• 125 ml soet dessertwyn (of die kersiesap uit die blik)
• 45 ml kersiekonfyt
• 125 ml sjokolade-neutsmeer
• 100 g glanskersies, gekap
• 1/2 blik swart kersies, gekap
• 180 g donkersjokolade, in stukke gebreek
• maraschino-kersies, vir versiering

1 Voer een groot ronde bak of twee kleiner bakke met drie lae kleefplastiek.

2 Laat ’n kwart van die roomys staan om effens sag te word. Roer die geroosterde amandels daarby in en skep dit in die bak wat met kleefplastiek gevoer is. Bedek die roomys met ’n laag van die snye rolkoek. Sprinkel ’n bietjie van die soetwyn en kersiekonfyt oor. Sit dit in die vrieskas tot dit ferm is.

3 Laat nog ’n kwart van die roomys staan om effens sagter te word. Meng dit met die neutsmeer en skep dit op die bevrore laag. Bedek dit met nog ’n laag rolkoek, sprinkel weer soetwyn oor en bedek dit met die orige konfyt. Sit dit terug in die vrieskas om ferm te word.

4 Laat die orige roomys sagter word en meng die glanskersies en swart kersies daarby in. Skep dit oor die koek en vries dit oornag.

5 Sit dit voor Smelt die donkersjokolade en laat dit afkoel. Haal die roomysbom uit die vrieskas. Keer dit op ’n opdienbord uit en trek die kleefplastiek af. Gooi die gesmelte sjokolade oor die roomysbom, of sny dit eers in skywe en sit dan elke skyf voor met van die gesmelte sjokolade oorgedrup. Versier dit met die maraschino-kersies.
By idees

Enjoyed this post? Share it!