Kgalema Mothlanthe: Maak die werk van sekswerkers wettig en beskerm hul regte

Maak die werk van sekswerkers wettig en beskerm hul regte, vra oud.pres. Kgalema Mothlanthe in ’n parlementêre verslag.

Embrace Dignity, ’n nieregeringsorganisasie (NRO) wat veral fokus op die uitdagings van geslagsongelykhede, sê hulle is verheug met die aanbevelings.

Die verslag “Die assessering van wetgewing en die versnelling van fundamentele verandering”, is opgestel deur ’n paneel van onder andere politici, sakelui, regslui en ander meningsvormers. Groot fokus is in die verslag van 600 bladsye veral geplaas op kwessies soos onderwys, die ekonomie, werkloosheid, armoede, ongelykhede, gesondheid, misdaad en ander grondwetlike kwessies.

Van die onderwerpe wat ook ondersoek is, is die regte van vroue in Suid-Afrika, asook dié van sekswerkers.

Van die uitdagings wat geïdentifiseer is, sluit in die feit dat prostitusie steeds volgens wetgewing as ’n misdaad beskou word, die feit dat sekswerkers se toegang tot openbare dienste verhinder word deur mense se vooroordele, sekswerkers se vrese om strafregtelike klagte teen diegene aanhangig te maak wat hul menseregte as gevolg van die stigma daaragter benadeel, die feit dat die kanse dat sekswerkers in hul werk vermoor word 18 keer hoër is as iemand wat nie ’n sekswerker is nie, en die feit dat sekswerkers nie klagtes by die polisie teen hul oortreders aanhangig maak nie.

Organisasies soos Embrace Dignity, the Sex Workers Education and Advocacy Taskforce (SWEAT), Sisonke National Sex Worker Movement of SA, die Women’s Legal Centre en Sonke Gender Justice (2016) het hul insette aan die paneel gegee oor sekswerkers, bordele, aanhitsing, onsedelike blootstelling en geld wat onwettig uit prostitusie gemaak word.

Van hul insette was dat die kriminalisering van prostitusie die kwesbaarheid van sekswerkers verhoog, sekswerkers stigmas ervaar en ontmoedig word om kondome by hulle te hê omdat die polisie dit sien as ’n bewys van sekswerk.

Die organisasies sê sekswerk is ’n wettige vorm van arbeid en om hierdie aktiwiteit te kriminaliseer, skend die fundamentele regte van sekswerkers.

Hulle vra dat die parlement ’n nasionale strategiese plan in plek moet stel met sterk monitering- en evalueringskomponente en dat die plan in samewerking met die burgerlike samelewing alle vorme van geslagsgebaseerde geweld aanspreek.

Nozizwe Madlala-Routledge, uitvoerende direkteur van Embrace Dignity, sê die verslag reflekteer hul insette en argumente dat die seksbedryf uitbuitend is.

“Daar is geen veiligheid in prostitusie vir vroue nie en ook nie vir gemarginaliseerde mense wat vir seks verkoop word nie. Dit kan nooit veilig wees nie.”


Enjoyed this post? Share it!