Klant onthuts oor kamera in Edgars aantrekhokkie – Oeps!!

Eers nadat sy haar kaal uitgetrek het in Edgars se aantrekhokkie, het Zelda Bal (47) van Brackenfell die kamera se oog in die spieël sien weerkaats.

Sy het toe omgedraai en ’n sekuriteitskamera teen die dak van die vertrek gesien waarin die aantrekhokkies van dié klerewinkel in ’n bekende winkelsentrum in Bellville is. Die sferiese sekuriteitskamera is duidelik sigbaar buite die eerste hokkie bó die gordyn in foto’s wat Bal aan Netwerk24 gestuur het.

Die werknemer aan diens by die aantrekhokkies het ’n ontstoke Bal laat weet dat hulle bewus is van die kamera, maar dat dit net mense dophou wat die aanpaskamers in- en uitgaan. Dit was by die aanpaskamers op die grondverdieping van die winkel duskant die vroue- onderklere, nagklere- en swemklere-afdelings.

“As ek die kamera kan sien, wie kyk vir my? En wie kyk vir al die vorige vroue en meisiekinders wat nie net ’n bloesie aanpas nie, maar dalk swemklere?” het Bal, wat self ’n 18-jarige dogter het, gewonder. Sy was so ontsteld dat sy summier uit die winkel gestap het en Vrydag op Facebook ’n boodskap aan Edgars gestuur het.

“Ek het baie vernederd gevoel, bietjie rattled en teleurgesteld,” sê Bal. “Jy stel jouself bloot. Jy weet mos nie wie kyk die beeldmateriaal nie. Wat maak hulle daarmee? Lag hulle daaroor?

“Dit maak inbreuk op ’n mens se privaatheid. Jy voel jou menseregte is aangetas,” sê Bal.

“Die kringtelevisie neem net die werknemer by die deur af. Die winkel is besig om dit na ‘n ander plek te skuif,” het Edgars Maandag op Facebook aan Bal geantwoord.

Met Netwerk24 se besoek Maandag was die kamera wel op die plek waar Bal aangedui het, maar dit was met plakkers en karton toegemaak. ’n Werknemer by die winkel het gesê dat die kamera Maandag bedek is.

’n Woordvoerder van Edcon sê dat geen kameras geposisioneer is om beeldmateriaal in Edgars se aantrekkamers op te neem nie.

“Daar is egter sekuriteitskameras wat sigbaar is vanuit die aantrekkamers, maar hierdie kameras is gerig op gevaarpunte in die winkel en is nooit gemik na die aantrekkamers self of in die aantrekkamers nie,” sê die woordvoerder.

Volgens Edcon is die kameras geposisioneer om hoërisiko-gebiede in die winkel te monitor, soos die ontvangsarea van die aantrekkamers.

Volgens die woordvoerder het Edcon die kameras wat Bal gesien het intussen bedek en het hulle die sekuriteitsmaatskappy gevra om dit te verwyder.

“Edcon ag klante se privaatheid as belangrik en sal nooit iets doen wat klante se persoonlike ruimte kompromitteer nie.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Chris Bezuidenhout

    Dit is in elk geval grusaam om die aanpas van onderklere toe te laat, om te dink ek koop onderklere wat iemand wat nie baie skoon was nie, aan gehad het. Daar is bv. baie oordraagbare dinge wat in die materiaal kan wegkruip.