Klapmuts: 2de inbraak in 2 dae

Jeff Steadman sidder om te dink wat met sy suster en haar dogters sou gebeur het as hy nie Donderdagoggend opgedaag het terwyl daar by hulle ingebreek is nie.

Steadman se suster, wat nie haar naam genoem wil hê nie, is Donderdag omstreeks 02:00 op ’n kleinhoewe in Klapmuts naby Stellenbosch beroof. Steadman se huis is ’n ent weg van sy suster s’n af op die kleinhoewe Longacres op die Protea-pad.

Dit kom nadat Joubert Conradie (47) slegs twee dae tevore op sy plaas Uitkyk naby Klapmuts vermoor is.

“Ons het gehoor die honde begin blaf en ’n flitslig deur die venster gesien skyn,” sê Steadman se suster.

Die inbrekers het aan die deur begin kap. Die vrou en haar tweelingdogters (15) het gegil en die lig aangeskakel. “Ons het gedink dit sal hulle laat weghardloop, maar hulle het net harder aan die deur gekap,” sê sy.

Die drie het vir Steadman gebel en hulself in die slaapkamer toegesluit. Hulle het aangehou gil en gehoor hoe die deur oopgebreek word en die huis binnegedring word.

Die inbrekers het die deur van die kamer waarin hulle toegesluit was probeer oopbreek, maar Steadman het net betyds op die toneel opgedaag.

“Ek het vir hom geskree dat daar meer as een inbreker is, maar dit het skielik stil geword en ek het gehoor hoe my broer vra: ‘Is jul ouens oukei?’”

Steadman sê die inbrekers het die agterdeur en veiligheidshek oopgebreek en probeer om die slaapkamerdeur ook oop te breek toe hy met sy hond en gaspistool daar aankom.

“Hulle was bang en het blitsvinnig verby my by die deur uitgehardloop. Die hond is agter hulle aan,” sê hy.

“Ek weet nie wat sou gebeur het as hulle by die slaapkamer ingekom het nie, gelukkig was ek net betyds.”

Hy het die polisie geprys vir hul vinnige optrede. Die polisie het die voorval bevestig en gesê die saak word ondersoek.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!