Klerksdorp Munisipaliteit dalk hulle brandweerwaens kwyt

Die balju in Klerksdorp het voertuie, wat brandweerwaens insluit, van die Matlosana-munisipaliteit opgeskryf om daarop beslag te lê indien die munisipaliteit nie binnekort sy agterstallige skuld betaal nie.

Maritha Coetzee, DA-raadslid in die Matlosana-munisipaliteit, sê die brandweer se voertuie is opgeskryf nadat die munisipaliteit versuim het om Samuel Masisi se regskoste van sowat R250 000 te betaal.

Die arbeidshof het die munisipaliteit in Desember 2016 beveel om die koste te betaal nadat die hof in Masisi se guns beslis het dat hy onregmatig afgedank is. Masisi was voorheen ’n direkteur by die munisipaliteit.
Coetzee sê die munisipaliteit kan veral nie nou terwyl die risiko vir veldbrande hoog is, bekostig om brandweerwaens te verloor nie.

“Die munisipaliteit besit drie brandweerwaens en twee wat stukkend en uitgedien is. Daar is geen beleid oor die vervanging van die waens nie.”

DIE MUNISIPALITEIT BESIT DRIE BRANDWEERWAENS EN TWEE WAT STUKKEND EN UITGEDIEN IS. DAAR IS GEEN BELEID OOR DIE VERVANGING VAN DIE WAENS NIE

Maritha Coetzee, DA-raadslid
Volgens Coetzee het die hoeveelheid geld wat die munisipaliteit aan skikkings in arbeidsdispute betaal, die afgelope jaar met byna verdubbel – van R6,4 miljoen tot R12,4 miljoen.

“Die munisipaliteit het elke arbeidshofsaak teen hom die afgelope boekjaar verloor. 2016-’17 word nou berug weens die vermorsing van belastingbetalersgeld.”

Die munisipaliteit kry boonop mense van buite om arbeidshofsake te beveg, al is vier mense in Matlosana se regsafdeling aangestel, sê Coetzee.

“Dis skandalige wanbesteding deur die ANC-beheerde munisipaliteit. Die geld kan baie beter aangewend word vir die bou van laekoste-huise, die opgradering van infrastruktuur, instandhouding van paaie en algemene dienslewering.”

Ntswaki Makgetha, munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit is in die proses om die byna R250 000 te betaal, maar dat hulle eers gewag het vir ’n belastingrekening van die prokureurs voordat hulle dit kon betaal.

“Ons het steeds ons brandweerwaens en werk gaan soos altyd voort.”

Makgetha ontken dat die munisipaliteit al hul arbeidsregsgedinge verloor. “Sake vir die 2016-’17-boekjaar is steeds hangende en net party daarvan is reeds afgehandel.”

Deur Susan Cilliers/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!