Kliniek in Sasolburg na Kubaanse terroris vernoem

Dit is onaanvaarbaar dat ‘n plek waar mense gesond gemaak moet word, vernoem word na ‘n persoon wat vir sy gewelddadigheid onthou word, sê Wouter Wessels, VF Plus-LPW vir die Vrystaat.

Mnr. Wessels het gereageer op die aankondiging dat ‘n kliniek in Sasolburg na die Kubaanse oorlogstiran, Ché Guevara vernoem word.

Volgens Wessels was Guevara ook bekend vir sy rassistiese uitsprake teenoor swart mense. Hy het onder meer gesê swartes is lui dromers wat hul inkomste bestee op nietighede of drank.”

“Die Vrystaatse regering se beheptheid met Kuba en Fidel Castro sal nou nuwe hoogtes bereik met die inhuldiging van die Ché Guevara-kliniek. Dit is duidelik dat die ANC na die SAKP se kiesers vry met die verering van Guevara vir die verkiesing in Sasolburg later vandeesmaand.

“Guevara het eerder lewens geneem en verwoes as gered en was ‘n belangrike instrument om Fidel Castro se kommunistiese regime in Kuba af te dwing.

“Hy was verantwoordelik vir die teregstelling van duisende mense, waaronder vroue, kinders, joernaliste en enigiemand wat nie met sy leier, Fidel Castro, se totalitêre leierskap en beleid saamgestem het nie.

“Die ANC wil van Guevara ‘n held maak, maar die geskiedenis leer ons dat hy ‘n tiran en ‘n moordenaar was wat nie geskroom het om self mense tereg te stel nie. Hy het ook arbeidskampe tot stand gebring waar mense in haglike toestande moes leef,” sê Wessels.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!