Knak ANC eenparty-sindroom nou?

Die binnegevegte in die ANC is kenmerkend van ’n de facto-eenpartystaat-party wat skielik met die werklikheid gekonfronteer word dat dit dalk die bewind kwyt kan wees. Daar is dus amper ’n histerie oor die sterk faksionalisme wat voorkom, en die slopingseffek daarvan op die ANC in ’n veelparty-werklikheid. Net so blyk dit dat die opposisiepartye nog baie te leer het van koalisiepolitiek – die enigste alternatief tot voortgesette ANC-regering.

Die ANC noem die twee- (en drie- of vierspalt) in die party faksionalisme en ’n euwel, en dit moet op die een of ander wyse gestuit word. Maar hoe word so iets gestuit as baie van die leiers in ’n eenparty-sindroom vasgevang is? Veral enkele maande voor die ANC sy volgende president aanwys, wat ook in die afsienbare toekoms die land se president sal wees – mits die ANC wel die algemene verkiesing in 2019 wen.

En dis nie meer so vanselfsprekend nie.

Maar kan die ANC hom nog betyds losmaak van die konsep van ’n “broad church” waar die demokrasie hom binne die “broad church” moet afspeel en die formele wetgewende gesag eintlik as irrelevant beskou word, en hom omskakel na ’n werklike politieke party met klinkklare beleid?

In hoe ’n mate Suid-Afrika onderweg was na ’n eenpartystaat het geblyk uit faktore soos dat die ANC begin het met die grootste minagting van ander partye en ’n “parlementêre reël” begin deurvoer het dat slegs wetgewing wat deur die ANC of ANC-lede voorgestel word, ooit voor die parlement mag dien. Die stukkie kruipende eenparty-diktatuur is deur hofsake gestuit wat deur onder andere wyle dr. Mario Ambrosini van die IVP aanhangig gemaak is.

Net so ontstellend was in hoe ’n mate Luthuli-huis eenvoudig aan ANC-parlementslede voorgeskryf het sodat die parlement se oorsigrol oor die uitvoerende regeringslui eintlik in die stof gebyt het. Hieroor is pres. Jacob Zuma en die ANC-lede in die parlement erg deur die konstitusionele hof geroskam toe die Nkandla-kwessie voor die hof gedien het.

So maklik ontsnap die ANC egter nie uit sy eenpartysindroom nie.

Trouens, waar ’n “tipiese” eenpartystaat wat op die titel “demokrasie” aanspraak maak aan lede ’n taamlike ruimte laat om openlik van die party se hoofstroomdenke te verskil, laat die ANC dit nie toe nie, soos onder meer blyk uit die dissiplinêre verhoor van dr. Makhosi Khosa, wat blykbaar deur nog soortgelyke verhore gevolg gaan word.

Die term “eenpartydemokrasie” is selde in die praktyk houdbaar. Kenia was baie lank ’n de facto-“eenpartydemokrasie”. Grondwetlik was dit ’n “veelpartydemokrasie”, maar alle ander partye as die regerende Kanu is verbied. Die mate waartoe Kanu-lede as opposisie kon optree, was beperk, want om ’n sekere vae grens oor te steek het maklik tot ’n verblyf in die tjoekie gelei.

Ironies genoeg, een van die redes wat aangevoer is dat Kenia nie geskik vir ’n veelpartydemokrasie is nie, was dat Kenia se heterogeniteit en stamgebondenheid feitlik sou verseker dat partye hul wortels in stamverband sou vind. Kiesers sou dus “vir hul stam” eerder as vir beleid stem – iets wat tot groot mate werklikheid geword het toe Kenia inderdaad (weer) ’n veelpartydemokrasie geword het. Dit is onlangs weer in die presidentsverkiesing daar gedemonstreer.

Hoe kleiner die ANC se meerderheid word, en hoe meer stede en dorpe hy in munisipale verkiesings afstaan, hoe meer kom die eenpartykonsep onder druk. Skielik raak die opposisiepolitiek meer relevant as bloot ’n numeriese spel van kyk hoeveel setels verower kan word om “sagte” poste vir lojale lede en goed-gekonnekteerde vriende te kry. Dat die wegkalwery van ’n gerieflike meerderheid boonop beteken dat setels en die gepaardgaande ondersteuningsposte al skaarser raak, en minder lede op staatskoste beloon kan word, byt boonop aan die hakskene.

Om die algemene verkiesing van 2019 te verloor, gaan egter ’n ondenkbare ramp vir die ANC wees. Die eenpartypolitiek om binne die ANC geposisioneer te wees, kan nie meer bekostig word as dit op ’n manier plaasvind wat die ANC se aanslag in die veelparty-omgewing kan benadeel nie. En vir diegene wat nog hierdie werklikheid ontken het, was die Ipsos-peiling dat die ANC nou minder as die helfte van die stemme gaan kry, ’n ordelike wakkerklapper.

Die ergste manifestasie is die politieke moorde onder ANC-lede in KwaZulu-Natal.

Die ANC is egter nie al wat aan die “nuwe werklikheid” gewoond moet raak nie. Opposisiepartye moet ook gewoond raak aan die konsep van koalisiepolitiek, en hulle in groot haas vertroud maak met die “kunsies” daarvan.

Om koalisiepolitiek te bedryf op ’n manier waar die grootste vennoot sake so probeer domineer as sou dit die regerende party wees, is ’n resep vir ’n breekspul, en daar is nou ook nie ’n tekort aan sulke beskuldigings teen die DA vanuit die geledere van die koalisievennote nie. Lomp voetwerk kan beteken dat die opposisie beheer oor van die rade kan verloor waaroor dié koalisies nou die septer swaai. Daar is ’n groot verskil, veral in styl, tussen om die regerende party te wees, en om die grootste party in ’n koalisie te wees.

(Maroela Media het reeds voor die Ipsos-peiling die belangrikheid van voorbereiding vir koalisiepolitiek onder die loep geneem. Lees gerus “Slaggate en voordele van koalisiepolitiek” hier.

Die ANC het egter die grootste taak. Eenpartystate, selfs met hibriede tekens van demokrasie ingebou, hou selde baie lank stand. So kon pres. Assad van Sirië se eenpartyparlement (waar die Baath-party die enigste toelaatbare party is) wat ontwerp was om minderheidsgroepe verteenwoordiging te gee, nie die werklikheid enduit trotseer nie. Dit word slegs deur gewapende optrede, wat gifgas insluit, en veral Russiese, Iranse en Hezbollah-ondersteuning in die stoel gehou.

Een faktor speel egter ’n oorweldigende rol wat sake vir die ANC moeilik maak om uit sy eenparty-mentaliteit en faksionalisme te ontsnap, en dit heet Jacob Zuma. Die stelsel van staatskaping (wat volgens adj.pres. Cyril Ramaphosa alle staatsondernemings ingesluk het) en patronaatskap kan nie in ’n oop demokrasie stand hou nie. Zuma is egter op sy gemaklikste in daardie omgewing en die ontrafeling daarvan beweeg bedroewend stadig vorentoe. Kwessies soos die rassekwessie word aangeblaas om die aandag af te lei van die stappe wat gedoen word om die regruk van sake te frustreer.

’n Belangrike les uit Kenia se regbank se besluit om die presidentsverkiesing te laat hergeskied, word dikwels misgekyk. In Afrika het dit dikwels praktyk geword om “genoegsaam” vry en regverdig as ’n aanvaarbare norm te gebruik. Dit lyk dikwels of die grens tussen “genoegsaam”, en “niegenoegsaam” eerder afhang van politieke faktore as die werklike mate waartoe dit regverdig was. Die hof in Kenia het bevind daar was genoeg aanduidings dat alles nie met die verkiesing pluis was nie, en dat dit daarom oor moet plaasvind.

Vir Suid-Afrika en die SAOG (Botswana uitgesluit) om verkiesing ná verkiesing in Zimbabwe bloot te bevind dit was “voldoende vry en regverdig” al was daar tallose klagtes van instansies soos Verslaggewers Sonder Grense oor mediamanipulasie, asook ander klagtes, werp uiteraard ’n donker wolk oor die mate waartoe ’n gekierang ook hier as “vry en regverdig” verklaar kan word.

Deur: Herman Toerien/Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!