Kommentaar: Wat gebeur ná Mugabe (en Zuma)?

Ondanks die Zimbabwiese weermag se versekering dat pres. Robert Mugabe veilig is en hulle nie ʼn staatsgreep uitvoer nie, is dit presies wat besig is om te gebeur.

Die weermag se tydsberekening en modus operandi dui daarop dat hulle nie, soos wat hulle beweer, net ʼn paar kriminele rondom die president teiken nie. As jy iemand kwansuis probeer beskerm, neem jy nie van sy (en sy vrou se) lojaalste bondgenote in hegtenis nie. Jy doen dit ook nie op die manier waarop hulle dit tans doen deur tenks in te stuur nie. Om mense in hegtenis te neem is ook iets waarop die polisie moet fokus, nie die weermag nie. ʼn Paar konstabels sou dit sekerlik kon doen, maar in hierdie geval is die polisie glad nie eens betrokke nie en daar is vrae oor waar hulle in hierdie plofbare situasie staan.

Deur ook die Zimbabwiese Uitsaaikorporasie om middernag oor te neem, spreek boekdele. Dit was waarskynlik om die uitsaaier onkant te betrap terwyl min personeel aan diens was en die uitsaaikorporasie oorgeneem kon word sonder dat verdere anti-weermagpropaganda wat paniek saai, uitgesaai kon word. Andersins sou die weermag dit enige tyd deur die dag kon doen.

Die tydsberekening is ook uiters verdag. Hoekom nou hierdie skynbare kriminele teiken en nie vroeër nie? Daar moet ʼn sneller wees en die afdanking van Emmerson Mnangagwa as adjunkpresident verlede week is juis so ʼn gebeurtenis. Die weermag is een van Mnangagwa se groot steunbasisse en sy afdanking – tesame met Mugabe se vrou, Grace, se pad na die presidentskap wat soos ʼn uitgemaakte saak gelyk het – het die weermag genoop om in te gryp om hul eie belange te beskerm. Die kans is goed dat Grace Mugabe nadat sy as president oorgeneem het die weermag sou wou marginaliseer of die leierskorps heeltemal sou suiwer – soos trouens reeds met die regerende Zanu-PF aan die gang is.

Die weermag het dus die inisiatief geneem en dit lyk na die einde van die Mugabe’s se bewind in Zimbabwe. Daar is geloofwaardige berigte dat Robert Mugabe ʼn ooreenkoms met die weermag aangegaan het om Grace uit die land te kry – sy is na bewering in Suid-Afrika of Namibië.

Nog ʼn leidraad dat dit geen roetine-operasie is nie, is dat daar in Junie 2007 ook ʼn wesenlike poging deur die weermag was om die mag te bekom. Die plan was om Mugabe te verwyder en om dan vir Mnangagwa te vra om ʼn kabinet bestaande uit die hoofde van die veiligheidsmagte saam te stel. Dié poging is egter gefnuik en die baasbreine en voetsoldate is van verraad aangekla.

Die groot vraag is egter wat ná Mugabe in Zimbabwe kan gebeur. Vir ʼn land met ʼn verswakkende 93-jarige diktator het daar eintlik maar min openbare debat daaroor plaasgevind. Bygesê, die media is tot so ʼn mate gemuilband en beheer dat dit nie werklik kon gebeur nie. Daardie oomblik het egter nou aangebreek.

Meer as wat dit ʼn werklike ingryping is om die politieke en ekonomiese situasie in die land te verbeter, is hierdie skuiwe deur die weermag eintlik net ʼn magstryd tussen vyandige faksies binne Zanu-PF. Hierdie party, wat gebore is kort voor die bevrydingstryd teen die wit minderheidsregering in die destydse Rhodesië en later herdoop is tot Zanu-PF, sal steeds die land regeer nadat die Mugabe’s weg is. Mugabe het ook nie op sy eie die land geruïneer nie.

Van ʼn veelpartydemokrasie is daar hoegenaamd geen sprake in Zimbabwe nie. Trouens, die grootste opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), is tans so verdeeld dat hulle nie ʼn verenigde front teen Zanu-PF se vergrype kan vorm nie. Trouens, hulle veg meer teen mekaar as teen Zanu-PF en sukkel buitendien om die bevolking se verbeelding aan te gryp. Dit help ook nie as jou potensiële ondersteuners nie eens in die land is om te kan stem nie.

Dit is onwaarskynlik dat die Mnangagwa-vleuel van Zanu-PF, met die weermag en ook ander sleutelstaatsinstellings as magshefbome, nou soos goeie demokrate sal begin optree as hulle dit nie voorheen gedoen het nie. Mnangagwa was die argitek agter Zimbabwe se skadelike verinheemsingsbeleide (“indigenisation”) wat beleggers weggejaag het en in Mei vanjaar het hy nog groot lof vir die land se grondgrype uitgespreek. Selfs die MDC kloof hare oor die herstel van eiendomsreg. Hul laaste beleidsdokument, uitgereik in 2013, is baie vaag oor wat presies hulle als wil doen om die ekonomie en land om te keer.

Afgesien hiervan gaan die regte beleide vir baie lank konsekwent toegepas moet word vir Zimbabwe om sy eertydse glorie te herwin. Hef aan lê dus nog voor en dit is geensins ʼn uitgemaakte saak dat daar enige hoop op die horison is.

Ofskoon vinnige vergelykings tussen Suid-Afrika en Zimbabwe eerder vermy moet word, is daar wel sekere raakpunte wat genoem kan word. Al twee het outokratiese, bejaarde presidente wat hul vroue of gewese vroue as hul opvolgers wil vestig en albei ondervind ook teenstand vanaf vyandige faksies en indiwidue binne hul eie partye.

Pres. Jacob Zuma het ook glo planne om adjunkpresident Cyril Ramaphosa, sy vernaamste teenstander, af te dank soos wat Mugabe met Mnangagwa gedoen het. Daar is ʼn versoeking om Ramaphosa en Mnangagwa as slagoffers in hierdie magspel en die beste keuse onder ʼn klomp swak keuses te beskou, maar dit moet eerder weerstaan word. Ramaphosa, nes Mnangagwa, is ʼn vryheidsvegter wat al die sosialistiese en Afrika-nasionalistiese nonsens van sy party slaafs napraat en niks nuuts en modern bied nie, behalwe amorfe beloftes om “beleggersvertroue te herstel”. Hulle was albei ook aandadig aan die gemors waarin hul onderskeie lande hulle bevind en moet dus nie skielik tot iets voortreflik verhef word deur teen die laagste en mees verwerplike standaarde gemeet te word nie.

Die twee kan eenvoudig net nie hul onderskeie lande vorentoe neem nie, want hul DNS is verkeerd en dit gaan nie verander nie. Om net van ʼn Mugabe en ʼn Zuma ontslae te raak, los Zimbabwe sowel as Suid-Afrika steeds met reuseprobleme. Ons verdien baie beter en ons moet dit ook verwag.

Deur: Deur Dr. Eugene Brink/Solidariteit Blog


Enjoyed this post? Share it!