Kontrakteur net betyds te hulp gesnel

As die eienaar van ’n plaas buite Pretoria ’n paar sekondes later daar aangekom het, het Christo van Niekerk (34) se familie nou ’n begrafnis beplan.

Die familie twyfel of die vier mans wat Van Niekerk Donderdag wreedaardig aangeval het, van plan was om iets te roof.
“Dit lyk of hulle uit en uit daarop gerig was om my seun seer te maak,” het Alex van Niekerk Vrydag gesê.
Christo is verskeie kere met ’n mes gesteek en met ’n baksteen en ’n klip geslaan terwyl hy in sy voertuig deur die aanvallers vasgekeer is.
Nie sy foon of beursie of sy Nissan X-Trail-voertuig is geroof nie – net die motorsleutel.

“My kind lyk nie mooi nie, maar hy is darem baie beter as toe ons hom Donderdagaand vir die eerste keer in die hospitaal gesien het,” vertel sy pa.

Van Niekerk se pa-hulle was van die Kaap af op pad na die It’s Time-biddag in Bloemfontein toe hulle die nuus van die aanval gekry het.  Hulle het toe reguit na Pretoria gery.

“Ek glo hierdie is deel van die geestelike stryd in ons land. Die Bybel sê ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, so ons vermoed dié aanval op my kind was ’n geestelike aanval om ons van die spoor (met die Here) af te bring.

“Daarom het ons besluit om die aanvallers te vergewe,” het die Christo se pa emosioneel gesê.

Skoonpa Hennie van Wyk sê Christo is ’n kontrakteur wat omheinings doen.  Hy was Donderdagmiddag om 13:00 alleen op ’n plaas naby Dinokeng in Hammanskraal om die motor van ’n elektroniese hek op ’n plaas te koppel.  Vier mans het nader gekom. Iets het verdag gelyk en Van Niekerk het na sy voertuig begin beweeg. Die mans het agterna gehardloop.

“Christo het tot in sy voertuig gekom, maar voordat hy dit kon aanskakel, het die aanvallers aan weerskante die voertuig se vensters uitgeslaan.
“Twee het in die kar gespring en hom met ’n mes gesteek, terwyl die ander hom deur die stukkende vensters met ’n klip en ’n baksteen aangeval het,” sê Van Wyk.
Dit was toe dat die plaaseienaar op die toneel afgekom het.
“Hy het op die aanvallers begin skree en hulle het weggehardloop.
“As daai man twee of drie minute later was, het ons vandag ’n begrafnis beplan. Christo het by die dood omgedraai.”
Christo het minstens drie meswonde in sy sy en twee agter op sy kop opgedoen – dit is behalwe vir die beserings weens die houe met die klip en baksteen.

Hy was Donderdagaand vier uur in die teater van die Montana-hospitaal om onder meer die bloeding op sy brein van die hoofbeserings te behandel.

Hy is steeds in die waakeenheid.
Die polisie ondersoek die voorval.


 

Enjoyed this post? Share it!