Kragdiewe moet maar lig loop vir Brakpan tannie – Netwerk24

Kragdiewe moet dit liewer nie naby dié tannie van Brakpan se huis waag nie.

Sy slaap met een oog oop met ’n vuurwapen langs haar bed. Sy’t altyd ’n rewolwer gehad, maar gebruik deesdae ’n windbuks. En omdat die vuurwapen nie ’n harde geluid maak nie, blaas sy boonop op ’n fluitjie om die diewe te verjaag.

Sharon (66) se bure noem haar Magogo. Sy woon sedert 2003 alleen op ’n afgeleë kleinhoewe in naby Brakpan.

Die hoewe is nie omhein nie dus skiet sy gereeld waarskuwingskote in die lug en blaas haar fluitjie om skelms te verjaag. Hulle kom in die nag om haar elektrisiteit te steel.

Sy slaap nie veel nie en loer gedurig by haar venster uit om te kyk wat buite aangaan. Soms gaan sy buitentoe. Haar honde se blaf waarsku haar oor enige gevaar.

So ’n jaar gelede het haar een hond, Duke, verdwyn. Die hond is ’n week later dood in ’n nabygeleë veld gekry.

Sharon sê sy sien die diewe met hul flitse en hoor hoe hulle fluister. Dit is dan wanneer sy op hulle skree en haar fluitjie blaas.
“Ek is moeg daarvoor om groot bedrae geld vir elektrisiteit te betaal,” sê sy.

Daar is ’n kragkas op haar erf waar mense glo kabels onwettig koppel. Daar is ook ’n lamppaal oorkant haar hek waar onwettige aansluitings altyd gemaak is, maar ’n tydjie terug het die lamp uitgebrand en nou werk nie een straatlig meer nie.

Sharon het ook aan GroundUp ’n gat in haar erf gewys waar haar hoof- elektriese kabel ondergronds loop. Ook hier word onwettige aansluitings gemaak.

’n Maand gelede is sy naby haar huis beroof nadat sy haar pensioen gaan haal het.

Sy sê baie van haar bure het getrek weens die hoë misdaadsyfer in die gebied. Die huise rondom haar staan leeg en die elektrisiteit is afgesny. Van die huise word nou onwettig beset.

Wanneer die mense snags by haar erf insluip om krag by haar te steel, veroorsaak dit dat die stelsel oorlaai word en dan sit sy weer sonder elektrisiteit.

“IN 2014 WAS MY ELEKTRISITEITSREKENING R20 000. EK HET NOU EERS DIE LAASTE DAARVAN BETAAL”

Sharon sê haar kleinseun help altyd om die onwettige aansluitings te verwyder, want sy het jare laas ’n amptenaar van die Ekurhuleni-metroraad se Eskom-mense hier gesien.

“In 2014 was my elektrisiteitsrekening R20 000. Ek het nou eers die laaste daarvan betaal,” sê sy.

Themba Radebe, woordvoerder van die Ekurhuleni-munisipaliteit, sê hulle ondersoek die saak. Hy sê Eskom kan nie ’n rede gee waarom Sharon se saak glo “jare lank reeds geïgnoreer word nie”.

Hy sê dit kan nog ’n tydjie neem vir die stadsraad om die kwessie op te los weens ’n groot werkslading.

Eskom het nie op navrae gereageer nie.

Bron: Netwerk 24
Skrywer: Groundup


Enjoyed this post? Share it!