‘Krisisse kan vermy word as parlement sy werk doen’ – verklaar Johan Steenhuisen DA-Hoofsweep

Enigiemand wat dink dat die parlement sy oorsigwerk doen, “leef op ’n ander planeet”.

Dit omdat byna alle krisisse van die afgelope jare, soos Nkandla, die SABC en Sassa almal vermy kon gewees het as die parlement sy werk in die eerste plek behoorlik gedoen het.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het Donderdagaand so gesê toe hy gasspreker was by die Lets Talk-geselsreeks wat ’n groep Christelike leiers onder leiding van dr. Theuns Jacobs, pastoor van die Shofar-kerk in Roggebaai, Kaapstad, aangebied het.

Die tema van sy toespraak was “House of Cards – Die stand en toekoms van die parlement”.

Teenwoordiges wou onder meer weet of pres. Jacob Zuma die mosie van wantroue teen hom op 8 Augustus sal oorleef.

Volgens Steenhuisen sal “die ANC Zuma as president aanhou”.

“Ek dink egter ons nader ’n keerpunt. ANC-LP’s sal teen die party draai. Dit is waarom Baleka Mbete (speaker van die Nasionale Vergadering) en Zuma nie ’n geheime stemmery wil hê nie. As net een ANC-LP teen Zuma stem, sal dit hom ’n wond toedien.

“Zuma sal dan mank wees in aanloop tot (die ANC se verkiesingskonferensie in) Desember. Bloed sal in die water wees en die haaie sal Zuma omsingel.”
Dit sal volgens Steenhuisen dit moeilik maak vir die Zuma-kamp se kandidaat om in Desember die volgende ANC-president te word.

Oor die parlement se oorsigrol, het Steenhuisen gesê bogenoemde krisisse kon vermy gewees het as die parlement baie vroeg ingegryp het.

“(Mbete) en adj.pres. Cyril Ramaphosa (as leier van regeringsake in die parlement) moes opgetree het toe opposisie-LP’s aan die begin van die krisisse moeilike vrae in die parlement daaroor begin vrae het. Ministers het egter volstrek geweier om daardie vrae te beantwoord.

“Mbete het eerder opposisie-LP’s as die ministers tot orde geroep. Mbete is daarom die oorsaak van byna alle probleme omdat sy haar party voor die land stel.”

VOLGENS STEENHUISEN MOES DIE NKANDLA-HOFUITSPRAAK ’N WEKROEP VIR DIE PARLEMENT GEWEES HET.

Volgens Steenhuisen moes die Nkandla-hofuitspraak ’n wekroep vir die parlement gewees het, maar het Mbete steeds nie veel ag daarop geslaan nie.
Op ’n vraag oor wanneer die Gupta-verwante plundery in Suid-Afrika sal stop, het Steenhuisen gesê dit sal aanhou totdat daar baie min staatsgeld oor is.
Volgens hom sal staatskaping net behoorlik vasgevat kan word as Zuma en sy seun Duduzane, sowel as die betrokke ministers saam met die Gupta-broers voor die parlementêre komitees verskyn wat staatskaping binnekort sal begin ondersoek.

“As dit nie gebeur nie, sal ons soos voorheen net nog ’n verslag oor ’n parlementêre ondersoek kry waaraan niks gedoen word nie.”

Steenhuisen is egter baie optimisties oor die nasionale verkiesing in 2019 omdat dit die “eerste sal wees waarvan die uitslag nie ’n gegewe sal wees nie”.

“Ons eie interne meningspeilings wys dat as die huidige tendens voortduur, sal die ANC minder as 50% in 2019 kry. Die pad daarheen is egter nog lank en dinge kan verander. Ek dink egter dat wat ook al die uitslag is, sal ons ’n koalisieregering in 2019 hê. Hierdie koalisie sal óf deur die DA, óf deur die ANC gelei word,” het Steenhuisen gesê.

Deur Llewellyn Prince/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!