Kroonvrug: Skikking kan ‘trane afvee’

Kroonvrug: Skikking kan ‘trane afvee’

Kroonvrug HluhluweBoorgat11-275x275

Die eienaar van die beleërde plaas Kroonvrug by Hluhluwe het besluit om sy grond aan die Mblesthe-gemeenskap aan te bied om die konflik van die afgelope tyd finaal te ruste te lê.
Om al die trane af te vee wat gestort is op die beleërde plaas Kroonvrug by Hluhluwe, word dié grond in ʼn pakket aan die Mbletshe-gemeenskap aangebied, wat tot hul voordeel, dié van die grondeienaar, die huurders, die kommersiële boere van die omgewing én die staat is.
Mnr. Flip Raath, eienaar van die 15 00 ha plaas, is sedert middel-Mei in die nuus nadat 27 van die gemeenskap se beeste op Kroonvrug gevrek het. Die gemeenskap het hul beeste op Kroonvrug ingejaag omdat hul eie weiding gedaan was. ʼn Paar dae nadat die beeste gevrek het, het sowat 400 mense van die gemeenskap die grensheinings op Kroonvrug afgebreek en 51 stuks wild van Flip se seun, mnr. Arno Raath, met knopkieries en pangas doodgekap.
Die gemeenskap het Raath beskuldig dat hy die diere met opset vergiftig het. Die Raaths het weer oor ʼn kwessie van twee jaar altesaam 19 sake van betreding by die plaaslike polisiestasie ingedien, maar sonder welslae.
Mnr. Arno Raath en sy gesin moes ná dié aanval vir hul lewens vlug en het die plaas verlaat. Mnr. Fred Visser, bekende pynappelboer van Hluhluwe en sy seun, Du Toit, huur sowat 100 ha van Kroonvrug, waarop hulle pynappels verbou. Die Vissers moes inderhaas sekuriteit opskerp en die aanplantings is met elektriese heinings toegespan om te keer dat die beeste in die pynappels wei. Die plaas word nou deur algar betree, beeste wei daar en hout word met vragmotors weggery.
Mnr. Flip Raath het aan Landbou.com gesê die plaaslike boerevereniging het dié week oor die Kroonvrug-aangeleentheid vergader. Die vergadering was goed verteenwoordig deur dié garde boere wat al baie lank op Hluhluwe boer en goed onderleg is in die Zoeloe-kultuur.
“Dit het gegaan oor hoe om hierdie spanningsvolle situasie te ontlont wat tussen die Raath-familie en ons gemeenskapsbure heers oor die 27 beeste wat op ons plaas gevrek het. Die beskuldiging was hard en duidelik dat ons die beeste sou vergiftig het. Geen bewys daarvan kon tot dusver gevind word nie. ‘n Daad wat ons ontken.”
Dit het voorheen al aan die lig gekom dat die gemeenskap die plaas as hulle grond eis. Grondeise wat die gemeenskap reeds in 1998 ingedien het, het nog nie aandag gekry nie.
Raath sê die oorwoë konsensus uit die boerevergadering was dat die Raath-familie moet “sula izinyembezi”.
“Dit beteken dat ons ‘n daad van meegevoel moet betoon teenoor die mense wat beeste verloor het. Dit beteken ook dat die daad wederkerig moet wees want beide partye het seergekry. Kortliks: Ons moet die trane afvee of afwas. Daar moet dus ‘n bedrag in kontant, of kontant plus beeste, aan die betrokkenes aangebied word. Dit strook ook met die mening wat deur die plaaslike LUR vir landbou in KwaZulu-Natal, voorgestel is na afloop van ’n vergadering kort ná die voorval.
“Ek het diep oor hierdie saak nagedink en die enigste manier hoe ek al hierdie trane na weerskante toe kan afvee, is die volgende: Dat ek die plase Kroonvrug en Mtekweni aan die Minister van Grondsake, via die Grondeisekommissaris, aanbied om te koop, en dan aan die gemeenskap oordra, die beeste vergoed en ook die skade wat Arnold gelei het, aan hom te betaal.”
Raath sê: “Eintlik bietjie meer as dit. Ek daag die Minister om gehoor te gee aan hierdie versoek, hom of sy agent te stuur sodat ons die koop kan onderhandel, en dan langs my te kom staan as ons die plaas oorhandig. Ek is nou 73jaar oud en sal graag die saak wil besleg. Ons is tans totaal ontwortel.”Deur Jan Bezuidenhout
10 Julie 2015
Landbou nuus

Enjoyed this post? Share it!