Kry vir jou – ‘Malema moet opdok vir winkels se skade ná chaos’

Julius Malema, leier van die EFF, moet vir die skade aan die Sweedse klere-en-dekorwinkelgroep H&M verantwoordelik gehou word, het die DA Sondag gesê.

EFF-lede het H&M-winkels in Gauteng, die Wes-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal Saterdag bestorm en geplunder oor “rassisme” op ’n oorsese advertensiefoto.

Videomateriaal wat die naweek op verskeie netwerke geplaas is, wys hoe EFF-lede winkelpoppe omgooi en breek, klere van rakke op die vloer gooi en spieëls stukkend skop.

Die foto waaroor die EFF so woedend is, wys ’n swart seuntjie in ’n groen sweetpakbostuk met die woorde: “Coolest monkey in the jungle”. Daarnaas is ’n wit seuntjie in ’n soortgelyke bostuk met die woorde: “Survival Expert” daarop gedruk.

Kry vir jou - ‘Malema moet opdok vir winkels se skade ná chaos’

H&M, wat sowat twee jaar gelede sy deure in Suid-Afrika oopgemaak het, het ná kritiek onvoorwaardelik om verskoning gevra en al dié kledingstukke van sy rakke in 64 lande verwyder.

Mandisa Mashego, waarnemende voorsitter van die EFF in Gauteng, het Sondag gesê dié party gaan niemand om verskoning vra vir die gewelddadige optrede teen H&M nie. Volgens haar aanvaar die EFF nie meer mondelingse verskonings nie.

Mandisa het gesê rassisme moet met geweld beveg word. “Kapitalisme is geweld. Die enigste manier waarop kapitalisme beveg kan word, is deur geweld.”

Die DA se verklaring lui: “Hoewel die DA ten volle saamstem dat rassisme verdrukkend is en geen plek in ’n demokratiese Suid-Afrika het nie, moet geweld en destruktiewe optrede net so veroordeel word.”

Die DA meen die EFF moet verantwoordelikheid aanvaar vir al die skade wat H&M Saterdag gely het.

“Julius Malema, leier van die EFF, moet die geld terugbetaal en die winkels se werknemers vir die ure wat hulle gewerk het om al die gemors op te ruim,” sê Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder.

“Die vernietiging van winkels takel nie die werklike kwessie – rassisme – nie.”

Volgens Nt’sekhe wys die geweld dat die EFF nie by die werknemers staan wat nou moontlik hul werk gaan verloor nie.

Die DA het die EFF van kortsigtigheid beskuldig en gesê daar is ander, doeltreffender maniere om rassisme te takel. “Die vernietiging van eiendom is nié een daarvan nie,” sê Nt’sekhe.

Mashego het gesê H&M dra niks tot Suid-Afrika se ekonomie by nie. Die mense wat nou kwansuis hul werk gaan verloor, sal maklik deur een van die vele soortgelyke Suid-Afrikaanse winkels in diens geneem word.

Rapport het berig 471 mense werk by H&M se winkels in Suid-Afrika.

Volgens Mashego voer H&M die klere en goedere wat hulle verkoop van China en Bangladesj en ander lande in en ondersteun die maatskappy nie die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf nie. “Ons sal H&M nie mis as die groep die land verlaat nie.”

Amelia-May Woudstra, H&M se woordvoerder, het Sondagmiddag laat in reaksie op navrae gesê: “Dit is ’n uitdagende tyd vir ons. Ons hanteer ’n uiters ernstige, sensitiewe en fluktuerende situasie en sal nog inligting beskikbaar stel wanneer ons kan.”

Sy het vroeër aan Rapport gesê H&M het as voorsorgmaatreël om die veiligheid van sy klante en werknemers te verseker tydelik al sy winkels in Suid-Afrika gesluit.

Lt.kol. Lungelo Dlamini van die polisie sê verskeie sake wat verband hou met opsetlike saakbeskadiginging is teen die vandale aanhangig gemaak. Volgens hom het polisiebeamptes wat die voorvalle sien gebeur het die sake aanhangig gemaak. Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie.


Enjoyed this post? Share it!