Kwaaddoeners brand huis af op kleinhoewe in Kameelrdrif

’n Bejaarde man en twee werknemers het ternouernood uit ’n brandende huis in Kameeldrift ontsnap – na ’n doelbewuste brandstigting.

Vrydagoggend het die huis, op ’n kleinhoewe in Wallmansthal/Kameeldrift, in puin gelê nadat ’n groep onbekende mense die huis vroeër aan die brand gesteek het.

“Dit het omtrent 03:40 gebeur,” vertel Monique Moller.

“Hulle (brandstigters) het blykbaar by my ouers se huis probeer inbreek. Toe hulle nie daarin kon slaag nie, het hulle die huis aan die brand gesteek.”
Moller sê haar ouers, Marinda en Alan Koppel, en ander familielede wat ook in die huis bly, was nie tuis tydens die voorval nie.

“My oupa was alleen saam met die huiswerker en tuinier in die huis

Die 71-jarige Baltus Bester en die twee werknemers is uit die brandende huis gered deur polisie wat na die toneel ontbied is.

“Dis ’n grasdakhuis en die vlamme het vinnig versprei,” sê Moller.

“Gelukkig was nooddienste betyds op toneel om my oupa en die werknemers te red.”

Moller sê haar ouers se huis kon egter nie gered word nie.

“Twee koppies is al wat in die huis oorgebly het.”

“Danksy die Kameeldrift-gemeenskap is benodighede en items, wat die afgebrande goedere kan vervang, ingesamel.”

Moller bedank die GPF in die omgewing, nooddienste en ander inwoners wat die familie bygestaan het met nodige donasies.

“Ons pak nou nog klere uit wat my familie ontvang het van hierdie wonderlike mense in ons gemeenskap,” het Moller Maandagmiddag gesê.

Intussen is polisie nog op soek na die brandstigters wat die skade veroorsaak het.

Moller sê: “Dis onbekend hoeveel mense daar was. Die huiswerker vertel daar was tussen vyf of sewe voor die huis, maar dit was te donker om seker te wees.”

Sy sê die motief of rede hoekom hulle die huis aan die brand gesteek het, is duister.

Polisie-woordvoerder, kolonel Makasela Nkuna sê forensiese spanne is ook na die toneel ontbied om ondersoek in te stel.

“Die saak word ondersoek,” sê Nkuna.

Deur: Corlia Kruger


 

Enjoyed this post? Share it!