Kyk wat gebeur in Belfast Hospitaal – Bejaarde skokkend behandel!

Die skokkende wyse waarop ʼn bejaarde hoësorg pasiënt in die staatshospitaal op Belfast behandel is, is onaanvaarbaar en die VF Plus sal by dié provinsie se minister van gesondheid op ʼn antwoord aandring, sê mnr. Werner Weber, leier van die VF Plus in Mpumalanga.

Mnr. Hennie de Beer (76) se familie het bevestig dat hy Vrydagaand uit sy bed geval het en feitlik die hele nag op die vloer gelê het, wyl ander pasiënte vir hom gelag het en van die personeel gesê het dat hy sterk genoeg is om self op te staan.

Mnr. De Beer is uiteindelik na ʼn ander kamer verskuif. Sy drup is egter nie teruggeplaas nie en daar was ook nie suurstof wat hy benodig nie. Die drup is eers die middag weer teruggeplaas.

Toe mnr. De Beer se seun, mnr. Hennie de Beer jnr., by die hospitaal navraag gedoen het oor die voorval, is hy hardhandig uit die hospitaal verwyder en daarvan beskuldig dat hy ʼn rassis is.

“Mnr. De Beer jnr. het aan die VF Plus vertel hoe geskok hy was oor die voorval, en het ontken dat hy rassisties opgetree het teenoor die personeel.

“Hierdie voorval en optrede is totaal onaanvaarbaar. Wanneer mense met swak diens gekonfronteer word, raak dit toenemend ʼn maklike uitweg om die rassekaart te speel.

“Die VF Plus sal die saak nie daar laat nie. Wat met mnr. De Beer gebeur het, getuig van skokkende swak diens deur die personeel wat lewensgevaarlik is vir alle pasiënte, wit en swart.

“Die matrone in beheer was nie bereid om met die VF Plus oor die aangeleentheid te praat nie, en het gister selfs versuim om haar foon te beantwoord. Die saak sal nie daar gelaat word nie, en die VF Plus sal by die provinsie se minister daarop aandring dat dit ondersoek word,” sê mnr. Weber.


Enjoyed this post? Share it!