Lamskenkelsop met ’n Marokkaanse geur

500g lamskenkels
2 e olyfolie
sout en peper
2 uie, gekap
6 knoffelhuisies, grof gekap
1 t komynsaad
1 t paprika (soet, nie gerook)
1 lourierblaar
3-4 k biefaftreksel (ons gebruik vloeibare Nomu of Ina Paarman)
2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
3 e tamatiepuree
3 kaneelstokkies
2 e harissa-pasta
2 blikke (410 g elk) kekerertjies
1 blik (410 g) lensies
hand vol gerasperde suurlemoenskil en gekapte vars koljanderblare

Griekse jogurt, gemengde neute wat in botter gebraai  is en ekstra suurlemoenskil en koljanderblare vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 ºC.

1 Vryf die lamskenkels met die olie in en geur met sout en peper.

2 Bak in die voorverhitte oond tot lekker bruin.

3 Voeg die uie, knoffel, komynsaad en paprika by, roer goed deur en bak verder tot die uie ook sag is en gekaramelliseer het.

4 Giet alles – die pansappe ook – in ’n groot kastrol. Voeg die lourierblaar en 3 koppies aftreksel by. Bring tot kookpunt en laat 30 minute prut.

5 Voeg die tamaties en tamatiepuree by en laat verder prut tot die vleis heerlik sag is.

6 Roer die kaneelstokies, harissa-pasta, kekerertjies en lensies by. Laat nog ’n rukkie prut en proe vir geur. Voeg die laaste koppie beesvleisaftreksel by indien nodig.

7 Roer die suurlemoenskil en koljanderblare net voor opdiening by.

8 Sit voor saam met dik Griekse jogurt, gemengde neute wat in botter gebraai  is en ekstra suurlemoenskil en koljanderblare

Huisgenoot


 

Enjoyed this post? Share it!