Landbou, is die streep in die sand voor of na die kruispad?


Vanaand kyk ons na Landbou Nuus

Artikel 1

Suid-Afrika het by ‘n kruispad gekom, sê mnr. Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Die een pad loop na ‘n ontwikkelende land wat deur voortgesette ekonomiese groei en groter welvaart gekenmerk word maar wat sedert die nuwe politieke ontwikkeling in 1994 nou vinnig na ‘n doodloopstraat op pad is, sê mnr. Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hier is sy menings:
Die nuwe Regering het egter die teenoorgestelde pad gekies wat vinnig op ‘n onderontwikkelde land afstuur waar die landbou die grootste bydrae tot die ekonomie lewer en die grootste deel van die bevolking elke dag van die landbou afhanklik is vir hul eie oorlewing. Voedsel word in onderontwikkelde lande deur klein bestaansboere geproduseer en gevolglik ervaar die grootste deel van die bevolking hongersnood en wanvoeding.

Tot soveel as 60% van die klein bestaansboere voer elke dag self ‘n stryd om hul eie oorlewing en kan geen bydrae tot die land se voedselsekuriteit lewer nie. Hierdie lande kan ook nie sonder finansiële en voedselhulp van die internasionale gemeenskap en donateurs oorleef nie.

Die ANC-regering se vernietigingsproses van die land se menslike, natuurlike en finansiële hulpbronne en bates hou ondenkbare gevolge vir die land in wat op hierdie stadium nie ten volle deur ‘n groot deel van die bevolking besef word nie. Die punt word egter vinnig bereik waar die welvaart en vooruitgang wat Suid-Afrika as ‘n ontwikkelende land vir sy bevolking geskep het, nou spoedig tot ‘n einde kom en Suid-Afrika tot by ‘n kruispad bring.

Suid-Afrika in die algemeen en die ekonomie in besonder het, sedert die aanvaarding van die Nasionale Ontwikkelingsplan as die Regering se amptelike beleid vir die toekomstige ontwikkeling van die land, só agteruit gegaan dat die relevansie daarvan ernstig bevraagteken word omdat daar reeds te veel onomkeerbaar skade aangerig is. Die ernstige aanslag hierdie jaar op ‘n primêre bedryf soos die landbou se ekonomiese voortbestaan is ‘n duidelik aanduiding van hoe vinnig die pas versnel het om Suid-Afrika op die pad na hongersnood en groter armoede te plaas.

Die Regering se grondbeleid sal die laaste spyker in die doodskis van Suid-Afrika as ‘n ontwikkelende land wees. Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr. Gugile Nkwinti, het vroëer vanjaar baie meer duidelikheid oor die ANC se toekomstige grondbeleid gegee deur die instelling van ‘n grondplafon, die herverdeling van baie meer landbougrond as die aanvanklike 30% teiken en met die uiteindelike mikpunt dat die totale aantal grondeienaars die samestelling van die hele bevolking moet weerspieel.

Hiermee het die Regering dit duidelik gemaak dat grondherverdeling suiwer ‘n politiese doelwit is wat geensins die toekomstige versekering van voedselsekuriteit en ekonomiese groei in Suid-Afrika in ag gaan neem nie en eintlik net gebruik sal word om aan bewind te bly sonder om enige ander voorstelle in hierdie verband te oorweeg.

Die algemeen aanvaarde landboudoelwitte van die Regering met die ontwikkeling van klein bestaanboere aan die een kant en die behoud van voedselsekuriteit aan die ander kant sal nooit versoenbare doelwitte wees nie, soos wat dit reeds dekades lank in Afrika en ander onderontwikkelde lande in die wêreld bewys is.

Die onvermoë en mislukkings van die Regering om nie reeds ‘n beduidende aantal klein swart bestaansboere as die begunstigdes van grondeise en herverdeling suksesvol te kon vestig nie, tesame met die totale verval van die Departement van Landbou, sal veroorsaak dat die voorstelle van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die landbou nie sal slaag nie.

Die spesifieke voorstelle van die Kommissie lui dat … “After being identified, the land would be bought by the state at 50% of market value (which is closer to its fair productive value). The shortfall of the current owner will be made up by cash or in-kind contributions from the commercial farmers in the district who volunteer to participate. In exchange, commercial farmers will be protected from losing their land and gain black economic empowerment status.”

Hierdie voorstelle moet as suiwer wensdenkery verwerp word en verskaf meer as genoeg rede waarom die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die landbou totaal onaanvaarbaar is, ten spyte daarvan dat dit steeds as die amptelike beleid van die regering verkondig word. Die afdreiging dat boere wat nie vrywillig aan die plan wil deelneem nie se eiendomsreg klaarblyklik self nie eers deur die Grondwet van die land verder beskerm sal word nie is onaanvaarbaar en moet met agterdog bejeën word.

Hierdie voorstelle, tesame met die van die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se dreigemente, behoort genoeg rede vir kommersiële boere te wees om nou ‘n streep te trek en weg te stap van die verlening van enige verdere ondersteuning met die ontwikkeling van klein bestaansboere ten koste van hulle eie finansiële oorlewing. Dit sal ook nodig wees dat die georganiseerde landbou hom nou moet suiwer van diegene wat verder met die regering wil saamwerk om die land in ‘n bestaansboerdery, hongersnood en armoede te dompel ten koste van die kommersiële landbou. Die hele voedselketting in die land is totaal afhanklik van die kommersiële landbou.

Sover dit die ander voorstelle van die Kommissie vir die landbou betref, kan eintlik net die afleiding gemaak word dat nie een van die Kommissarisse van die Kommissie enigsins ‘n idee het wat dit beteken en verg om die langtermyn finansiële oorlewing van boere en volhoubare voedselsekuriteit vir die land tydens moeilike tye in die landbou soos droogtes, oorspoelings, makro-ekonomiese terugslae en politieke dreigemente te verseker nie!

Die landbou het inderdaad nou by die punt gekom waar die gevestigde kommersiële produsente nie meer ‘n ander keuse het nie as om met die handel- en nywerheidsbedrywe, soos insetverskaffers, landboubesighede en voedselverwerkers, asook diensteverskaffers en verbruikers-organisasies, saam te span om die bedreigings wat die land ondervind aan die Verenigde Nasies, die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Europese Unie en die Wêreldvoedselorganisasie uit te wys. Dit is in niemand in Suider-Afrika se belang as die landbou verder afgetakel en uiteindelik vernietig word nie, maar die landbou kan dit nie alleen doen nie en dit is ook nie net die landbou se verantwoordelikheid nie.

Dit is in werklikheid baie ironies dat terwyl Suid-Afrika besig is om in klein bestaansboerderye te verval, baie Afrikalande reeds met finansiële ondersteuning van die internasionale gemeenskap en donateurs geruime tyd reeds besig om die landbou in hulle lande te transformeer na kommersiële winsgewende en volhoubare landboubedrywe.

Landbou Nuus

11078101_1574871486099645_4749228924233371421_n

Artikel 2

Noordwes se boere óók ‘hier om te bly’

Boere in Noordwes wil in hul boerderye belê, maar het beleidsekerheid daarvoor nodig, is op Agri Noordwes se kongres besluit.

“Ons is hier om te bly en wil graag in ons ondernemings en mense belê, maar het groter beleidsekerheid nodig om dit met vertroue te doen.”

Só lui een van die besluite wat Agri Noordwes op sy jaarkongres geneem het. (Dit sluit aan by ‘n vroeëre brief van die voorsitter van die TLU SA, mnr. Louis Meintjes, waarin hy aan mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, geskryf het dat dié organisasie se boere hier is om te bly.)

Kongresgangers het hulle verbind tot landbou-ontwikkeling, mits dit grondwetlik en volhoubaar is en die Nasionale Ontwikkelingsplan as vertrekpunt het.

Mnr. Daan van der Merwe, wat onbestrede as ondervoorsitter herkies is, het die voorgestelde besluite aan die kongres voorgehou.

“Dit is krities dat ons ons boerderye uitbrei en nie na Afrika hoef te gaan nie.” Hy het gesê jong boere het enorme geleenthede, maar moet ondersteun en aangemoedig word om in die landbou te studeer en die landbou as ʼn bedryf te sien waar hulle vir hulself kan sorg.

“Ons kan nie net met die Land Bank praat oor finansiering vir swart boere en ons jong boere kry nie die geleenthede nie.”

Die kongres het sy steun aan Agri SA se holistiese raamwerk oor grondhervorming bevestig en gevra dat die spesiale entiteit wat daarin voorgestel word, gestig moet word.

“Die Regering het die geld en grond, ons het die planne en die kundigheid. Boere in Noordwes se finansiële posisie is nie van só ʼn aard dat hulle geld in riskante projekte kan belê nie.”

Landbou Nuus

11694971_10206034462772489_9166662522786839161_n

 

Artikel 3

Sê koebaai aan familieplase – Croucamp

Baie van diegene wat familiegrond besit, sal finansieel veel beter doen deur dit te verkoop en die kapitaal in minder riskante bates te belê, meen dr. Piet Croucamp.

Familieplase se waarde sal in die toekoms uit die som van die landbou-ekonomie verdwyn en daar sal toenemend op die sowat 8000 boere en paar megaboere wat oor die ekonomie van skaal beskik, staatgemaak moet word om in die land se kosbehoeftes te voorsien, sê dr. Piet Croukamp, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg.

As die genooide spreker op die Oos-Kaapse MPO se jaarvergadering in Port Elizabeth, het Croukamp gesê hoewel ’n emosionele waarde aan familiegrond geheg word, baie van diegene wat dit besit, finansieel veel beter sal doen deur dit te verkoop en die kapitaal in minder riskante bates te belê.

Oor hoe vinnig dit sal gebeur dat sulke plase sal verdwyn, het hy gesê dat alles deur die groeikoers in die land bepaal sal word.

Met verwysings na die politieke toneel in die land het hy toegegee dat die kans groot is dat pres. Jacob Zuma sy termyn sal uitdien maar dat skuiwe verwag kan word, sou die ANC in die 2016-verkiesing steun aan ’n koalisie van partye afstaan en ’n provinsie verloor.

“Verloor hy steun in Tswane of Johannesburg sal Zuma nie ‘terminaal gewond’ wees nie, maar dit ook ’n groot invloed hê oor wie sy opvolger gaan wees. Die vier voorste stalperde om by hom oor te neem is me. Dlamini-Zuma, Cyril Ramaphosa, Jeff Radebe en Zweli Mkhize.”

Croukamp het aan Landbouweekblad gesê dat hy nie ’n kandidaat is om die land te verlaat nie. “Nie na Perth nie, nêrens nie. Ek het ’n plan B. Dit is om te help om dinge te máák werk in ons land. Ons kan egter nie veel langer die beleidsonsekerheid wat daar nou is bekostig nie. Daar is R860 miljard in die land beskikbaar en more in die ekonomie belê sal word, mits daar sekerheid kom oor waar die Regering die land wil neem.”

Landbou Nuus

Land grab

Artikel 4

‘Duisend jaar om grondeise af te handel’

Die huidige proses van grondeise gaan nie in een mens se leeftyd afgehandel word nie, sê mnr. Louis Meintjes.

Teen die huidige tempo gaan slegs die 20 737 grondeise wat in die eerste kwartaal van vanjaar ingedien is, meer as 55 jaar neem om te finaliseer, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, in ‘n nuusverklaring.

“Dit sluit nie die eise in wat nog uitstaande is van die vorige rondte nie, ook nie die wat ná die eerste kwartaal ingedien is nie, en uiteraard ook nie dié wat nog tot 2019 ingedien moet word nie. “Die Departement verwag sowat 379 000 eise. Daardie eise sal dan in ongeveer 1 000 jaar gefinaliseer word!  Hierdie skep bowendien valse verwagtings by eisers dat hulle nog in hulle leeftyd ‘n vergoeding gaan ontvang.”

Dit is Meintjes se reaksie op syfers  wat in die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming ter tafel gelê is.

“Die TLU SA was reg in sy waarskuwing dat die Regering met die nuwe eiseproses ‘n heksebrousel oopkrap wat hy nie kan hanteer nie,” sê Meintjes.

“Daar word doelwitte gestel wat onrealisties is, en wat heel duidelik nie behoorlik deurdink is nie. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ly, soos so baie ander departemente, aan ‘n gebrek aan kapasiteit en kundigheid, en word nog net gedryf deur ‘n politieke agenda en ideologie wat sienderoë misluk.

“Die ANC-regering wil skynbaar nie leer uit die duur lesse wat al elders in die wêreld geleer is nie. Die resultaat is dat boere onseker is oor hulle toekoms, dat jong toetreders huiwer om in die landbou betrokke te raak, en die verbruiker begin al hoe meer bekommerd raak dat as hy nog kos op die tafel gaan hê, dit onbekostigbaar duur kan word.

“Intussen gaan dit beroerd met die land se ekonomie en ons huiwer op die rand van ‘n resessie. ‘n Verantwoordelike regering sou nou al sy aandag aan die herstel van die ekonomie gee, en hierdie onwerkbare grondeiseproses onmiddellik opskort. Helaas het ons die ANC-regering nie as verantwoordelik leer ken nie, dus kan ons verwag dat toestande net nog slegter gaan word,” sê Meintjes.

Hy het boere egter aangemoedig om hulle nie deur regeringsbeleid van stryk te laat bring nie, en positief voort te gaan om die verbruiker met kos op die tafel te voorsien. “Boere moet hulle nie te vinnig ontstel in geval van ‘n grondeis nie, en eerder met die TLU SA kontak maak. Ons boer steeds, nie te danke aan die Regering nie, maar ten spyte van die Regering.”

Landbou Nuus

bantukleusn1

 

 

Artikel 5

Grondeisekommissie baie ver agter

Die Grondeisekommissie kan nie die pyp rook nie en het sy teikens vir die eerste kwartaal heeltemal gemis.

’n Dringende beroep vir ingryping word op mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gedoen nadat die Kommissie vir die Herstel van Grondregte nie sy vasgestelde grondteikens kon nakom nie.

Die kommissie het die teiken om grondeise af te handel vir die eerste kwartaal van die huidige geldjaar met 44% gemis en die finalisering van eise met 77%. Dié inligting het by die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming uitgekom toe die kommissie sy vordering vir die eerste kwartaal van die 2015/’16-geldjaar voorgelê het.

Verskeie politieke partye en ander landbou-organisasies het die Regering gewaarsku dat grondeise nie heroopgestel moet word voordat die bestaande eise afgehandel is nie. Die Demokratiese Alliansie (DA) vra nou dat Nkwinti dringend moet ingryp om die kommissie se vermoë, produktiwiteit en geldelike hulpbronne te bepaal.

Mnr. Thomas Walters, die DA se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê nie die toegestaande begroting, of die besteding daarvan, dui daarop dat die ANC se belang in grondeise nie verder as ’n verkiesingsfoefie strek nie. Die kommissie se teiken vir die eerste kwartaal van 2015 was om 92 grondeise af te handel, maar slegs 38 skikkings is behaal. Hy mis dié teiken met 41%.

Die jaarlikse teiken is die afhandeling van 463 grondeise. Die teiken vir die finalisering van grondeise vir die eerste kwartaal is op 74 eise gestel, maar slegs 57 eise was gefinaliseer. Die jaarlikse teiken hiervoor is 373 eise. Walters sê wat skokkend is, is dat 195 van die eise wat in 1998 ingestel was, nagevors is, ondanks daarvan dat die jaarlikse teiken 2 660 en vir die eerste kwartaal 532 is. In die eerste kwartaal het die kommissie 20 737 nuwe eise ontvang.

Landbou nuus

Artikel 6

Boere ‘kan verskil maak in transformasie’

Pak die bul by die horings en laat transformasie werk, sê mnr. Pierre Vercueil, voorsitter van Agri Noordwes.

Moenie aan die kantlyn staan en die Regering kritiseer nie, pak die bul by die horings en aanvaar verantwoordelikheid om transformasie te laat werk.

Dit was mnr. Pierre Vercueil, voorsitter van Agri Noordwes, se uitdaging aan boere by die organisasie se jaarkongres in Lichtenburg.

“Dit is laat in die dag. Ons sit sekerlik ʼn bietjie op ʼn tydbom. Dit is nie goeie burgerskap om net aan die kantlyn te staan nie.”

Vercueil het gesê transformasie in die landbou misluk nie weens ʼn gebrek aan planne nie, maar weens inwerkingstelling, en dis hiér waar boere ʼn verskil kan maak. Maar dan moet die Regering geduld hê vir die tyd wat dit duur om begunstigdes op ʼn ekonomies haalbare manier te ontwikkel.

Vercueil sê in Duitsland duur dit agt jaar om ʼn boer te word: Eers moet iemand vyf jaar op ʼn plaas gaan werk en dan daarna gaan studeer.

Hy het verder gesê vir boere wat betrokke raak by die ontwikkeling van opkomende boere moet daar dié voordeel wees dat hulle dan erkenning kry dat hulle hul deel vir Suid-Afrika gedoen het.

Hy het Suid-Afrikaanse boere lof toegeswaai en gesê hy sou vir hulle agt uit tien gee. “Ongelukkig word die vaardighede wat nodig is om suksesvol te boer, onderskat. Ondanks die droogte het saaiboere steeds meer as 9 miljoen ton mielies geproduseer.”

Landbou nuus

 

 

Artikel 7

Probleme met verblyfreg by Mooirivier

Onmin oor verblyfreg skep probleme in die Mooirivier-omgewing.

Die Mooi Mpofana-boerevereniging bemiddel tans ’n situasie op die plaas Warley Common waarin die huurder van die plaas en grondbewoners mekaar verkeerd opgevryf het. Mnr. Hendrik Cadle, die huurder van hierdie plaas naby Mooirivier, het egter meer verwag van die boerevereniging in hierdie situasie.

“Dis onaanvaarbaar dat die boerevereniging die optrede van die betogers, wie oënskynlik brande stig en eiendom vernietig, goedkeur,” meen Cadle. Dit volg nadat mnr. Graham Armstrong van die Mooi Mpofana-boerevereniging, Cadle se optrede teenoor die grondbewoners op Warley Common veroordeel het.

Cadle het die plaas in 2013 begin boer in opsigters- en huurooreenkomste met dievorige en nuwe eienaars, Gibraltar Farm (Mpy.) Bpk. en die Roy Moodley-familietrust. Die diere van die grondbewoners op die plaas, drie families wat volgens gerugte reeds sedert 1990 op die plaas woonagtig is, is volgens ’n hofbevel geskut. Die elektrisiteit aan hierdie grondbewoners is ook afgesny deur die vorige eienaar.

Volgens mnr. Dirk Vercuil, Cadle se prokureur, hang hierdie onderonsie aan die ingewikkelde en dikwels betwisbare regsbeginsel van grond- en verblyfreg. “Volgens al die inligting wat ons bymekaar kon maak, is hierdie grondbewoners onwettig op die plaas,” verduidelik Vercuil. Na ’n vergadering tussen Vercuil, Cadle en mnr. Dudley Anderson, die voorsitter van die Mooi Mpofana-boerevereniging, het Cadle ingestem om die grondbewoners tegemoet te kom. “Soms moet ’n mens maar die trots sluk en ter wille van ’n goeie onderhandelingsplatform, ’n paar opofferinge maak.

“Die grondbewoners het al vantevore gepoog om as huurarbeiders op die plaas verklaar te word, wat hul regte tot die grond sal verander, maar hierdie aksies het skeef geloop weens foutiewe inligting wat reeds verlede jaar deur hul regsverteenwoordiger ingedien is. Verdere aksies word verwag, maar intussen boer Cadle voort op die plaas,” het Vercuil bevestig.

Landbou nuus

Artikel 8

TLU SA ‘het nou ’n streep getrek’

Boere wil nie meewerk aan hul eie ondergang nie, sê die TLU SA.

Dit kan nie van kommersiële boere verwag word om in die naam van ’n korrupte demokrasie hulle eie ondergang te kondoneer en te implementeer nie, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA.

Hy het in sy voorsittersrede by die organisasie se kongres in Pretoria gesê die TLU SA “het nou ’n streep getrek”. Daarmee bedoel hy die agteruitgang van die regeringstrukture het nou ’n vlak bereik waar daar nie net daaroor gepraat en dit dan vergeet kan word nie. “Die tyd het aangebreek dat ons eerlik en reguit vir mekaar begin sê hier is groot moeilikheid op pad.”

Hy sê die TLU SA bedoel nie daarmee gewelddadige reaksie of betogings nie. Die geweld in die Midde-Ooste het geleer moord en brand bring jou nêrens nie, behalwe om die samelewing te vernietig. Hy sê ’n oop deur na die Regering skep ’n halwe verwagting wat nie noodwendig tot iets lei nie.

Oop ore en ’n oop gemoed aan regeringskant is baie meer waardevol. Volgens Meintjes sal hy wil sien dat die hele waardeketting eengesind ’n landbouplan vir volhoubaarheid moet saamstel. “Dit moet ’n plan sonder politieke agenda wees wat ekonomiese werklikhede en die beginsels van die vryemark en private besitreg onderskryf.

Landbou nuus

 

10013963_209979842546006_1375126004_n

Artikel 9

Lente kom, maar winter bly vir ekonomie

Hoër voedselinflasie is verbruikers se voorland aan die einde van die jaar, waarsku Graan SA.

Verbruikers gaan beslis aan die einde van die jaar met hoër voedselinflasie getref word, sê mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom by Graan SA. Mielie- en suikerpryse sal styg weens onder meer die ergste droogte in Suid-Afrika in 23 jaar.

In ‘n berig op Netwerk24 sê Sihlobo op grond van huidige vooruitskattings het mielie­produksie op ’n jaargrondslag met 31% gedaal. Die prys van wit mielies is reeds op ’n jaargrondslag 75% hoër en die prys van geel mielies, wat vir voer gebruik word, het met 54% gestyg.

“Hierdie prysverhogings sal teen vroeg volgende jaar na kospryse soos stampmielies, mieliemeel, rooivleis en hoendervleis deursyfer,” sê Sihlobo.

* Weens die droogte moet boere in Suid-Afrika moet buitengewoon vindingryk wees, maar die uitdagings lyk soms onoorkomelik: Kom luister hoe ander boere en kenners hierdie probleme pak by Landbouweekblad se tweede konferensie, ​Oplossings vir die landbou, op 5 en 6 Oktober in Bloemfontein.

Bron: Netwerk24

boerpap

Artikel 10

Wekroep vir SA: Is daar kos op tafel?

Die potensiaal van ‘n massa-migrasie uit Afrika na die RSA weens hongersnood is baie sterk met ʼn volgende streekdroogte, waarsku mnr. Louis Meintjes.

Die TLU SA kan homself nie verbind tot ’n proses van grondhervormings wat bloot hektare wil uitdeel en nie begrip het vir die binding tussen grond, kos en kundigheid nie, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA.

Hy het in sy voorsittersrede by die organisasie se kongres in Pretoria gesê die oordrag van grond sonder die oordrag van menskapitaal is ʼn resep vir armoede. “Grond kan wel genasionaliseer en oorgedra word, maar dan bly dit onproduktiewe grond. Menskapitaal is egter ʼn persoonlike bate wat nie genasionaliseer kan word nie. Indien die kommersiële boer van die grond af padgee, gaan die menskapitaal saam met hom.”

Meintjes sê dit is dan die fase waar maatskaplike ineenstorting begin en dit is ’n argument wat nie werklik in die Parlement verstaan word nie.

Hy beklemtoon die TLU SA wil hom nie aan die produksieproses onttrek nie, inteendeel, dit moet meer sinvol bedryf word. “Maar dan moet die ANC-Regering aan kommersiële landbou die ruimte bied waarbinne hy sy menskapitaal kan bedryf. Dit is een van die grootste bates wat die land tans oor beskik.  Dit is nie ʼn guns nie, want die Regering kan dit in elk geval self nie doen nie, dit gaan om die oorlewing van die mense van die land. Dit gaan om kos!

“Ons kan nie van grond praat sonder om van kos te praat nie. Dit is maklik om in die Parlement politieke gimnastiek met grond syfers te speel. Hier waar ons egter bly, gaan dit net om een saak: Is daar kos op die tafel?”

Hy sê baie mense verstaan nie dat kos nie stop by die grense van die land nie. Die hele kosstruktuur van die streek is verweef met dit wat in Suid-Afrika geproduseer word. “En as die kos min raak, dan sterf die mense, of hulle migreer na Suid-Afrika toe. Die potensiaal van massa migrasie na Suid-Afrika toe is baie sterk. Met ʼn volgende streeksdroogte sal daar weer ʼn stroom mense na Suid-Afrika hul weg vind.

Landbou Nuus

Enjoyed this post? Share it!