Linkse onverdraagsaamheid en die opkoms van die nuwe verkramptes

trump-inhuldiging

Polisie druk betogers weg van die sypaadjie voor die Nasionale Persklub in Washington Donderdagaand by ‘n dansparty ter viering Donald Trump se inhuldiging as die nuwe Amerikaanse president. Foto: AP/John Minchillo

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se inhuldigingstoespraak moes Vrydagaand meeding om mediadekking met ʼn paar betogers wat die polisie uitgetart het terwyl hulle plakkate met anti-Trump-slagspreuke rondswaai.

Die polisiemagte het die situasie professioneel ontlont en Trump se presidensiële konvooi kon deur die strate van Washington DC beweeg. Die volgende dag was daar egter weer protesoptogte waaraan duisende vroue oor die hele Amerika deelgeneem het. Weereens was die rede vir hulle ongelukkigheid Donald Trump.

Sedert sy verkiesing het verskeie bekendes hulle ongelukkigheid oor hierdie verwikkeling uitgespreek. Die sangeres Miley Cyrus het haar emosionele ineenstorting op kamera vasgelê en dit op YouTube geplaas, Meryl Streep het ʼn toespraakgeleentheid by die Golden Globes misbruik om Trump te kritiseer en Madonna het gedreig om die Withuis op te blaas. Natuurlik bestaan daar iets soos vryheid van spraak en natuurlik is dit heeltemal aanvaarbaar om deur middel van protesaksies te wys hoe ongelukkig jy met ʼn bepaalde gebeurtenis is. Dit is egter onbillik om ʼn presidensiële termyn te veroordeel nog voor die president by die Withuis ingestap het.

Die kritiek op Trump se verkiesing en die onverdraagsaamheid wat daarmee gepaardgaan, is ʼn toenemende verskynsel onder diegene wat hulself links in die politieke spektrum posisioneer. Daar is woede as ʼn demokratiese verkiesing lei tot ʼn president met wie hulle nie tevrede is nie, daar is woede as ʼn konserwatiewe meningsvormer genooi word om ʼn universiteit toe te spreek of daar is woede as ʼn winkelsentrum besluit dat badkamers slegs vir twee geslagte voorsiening maak – mans en vroue.

Die verskynsel van die tipe onverdraagsaamheid is egter nie tot Amerika beperk nie. In Suid-Afrika kom dit voor as jy nie inskakel by wat as die politieke norm gesien word nie. Een van die kenmerke van linkse onverdraagsaamheid is ʼn absolute weiering om ander se standpunte in te sien of selfs ruimte te laat vir oortuiging. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die sangeres wat verby Orania ry en nie die moeite doen om uit te vind hoe die gemeenskap funksioneer en waaroor dit gaan nie. Sy stop slegs om ʼn foto voor die bord wat aandui dat jy nou in Orania is te neem, met haar twee middelvingers in die lug. Geen ruimte vir debatvoering nie en geen bereidwilligheid om ander se standpunte aan te hoor nie.

In 1966 spreek die voormalige koerantredakteur en akademikus, dr. Willem de Klerk, ʼn Sabra-jeugkongres toe waar hy van die terme verlig en verkramp gebruik maak. Die verkramptes is diegene wat onverdraagsaam is teenoor verandering, ander se standpunte en enige gebeure of uitlatings wat nie versoenbaar is met hulle eie baie beperkte manier van dinge sien nie. Dit sal interessant wees om te sien na wie dr. De Klerk 50 jaar later as die verkramptes verwys.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Enjoyed this post? Share it!