Lovedale-kollege gesluit ná geweld op kampus

Die Lovedale-kollege se kampus in Alice in die Oos-Kaap is vir ’n onbepaalde tyd gesluit nadat betogende studente Woensdagaand ’n gebou en twee voertuie uitgebrand het.

’n Brandweerwa, wat na die toneel ontbied is om die vlamme onder beheer te bring, is glo ook aan die brand gesteek.

Die betoging is Maandag deur studente begin wat kla dat hulle nog nie die terugbetaling ontvang het vir hul aanvanklike klasgelddeposito’s vanaf die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) nie.

 Die universiteitsbestuur vra in ’n verklaring dat alle studente, veral dié wat in koshuise woon, die geboue ontruim tot verder kennisgewing.

Volgens kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, is ’n huis naby die kampus ook beskadig nadat die studente dit met klippe bestook het.

Hy sê die polisie het van dié studente in hegtenis geneem wat later op waarskuwing vrygelaat is, maar binnekort in die landdroshof in Alice sal verskyn.

“Hulle is op aanklagte van openbare geweld, oortreding van die verkeerswet en opsetlike saakbeskadiging aangekeer,” sê Tonjeni.

Zingisa Nxazonke, kampushoof, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!