Luthuli-Huis, hoofkantoor van die ANC in balju se visier oor skuld

Die balju kan moontlik Maandag by Luthuli-Huis, hoofkantoor van die ANC in die Johannesburgse middestad, opdaag met hofdokumente dat die gebou opgeveil moet word.

Die hooggeregshof in Johannesburg het die balju opdrag gegee om die gebou op ’n veiling te verkoop omdat die party nie R25 miljoen opgedok het aan ’n maatskappy wat hom met die vorige provinsiale verkiesing met strategie gehelp het nie, berig The Sunday Independent.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het aan die koerant gesê die party betwis dit en sy prokureurs gee aandag aan die saak.

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, kon nie Sondag vir kommentaar bereik word nie.

The Sunday Independent berig die ANC is in ’n regsgeding met die maatskappy Resurgent Risk Managers betrokke.
Dié maatskappy word besit deur Manla Manzini, ’n voormalige hoof van die nasionale veiligheidsagentskap. Hy was saam met Arthur Fraser ’n direkteur van die maatskappy.

Fraser het verlede jaar bedank toe hy as direkteur-generaal van die nasionale veiligheidsagentskap aangestel is.
Volgens hofokumente wat The Sunday Independent gesien het, het die ANC, wat deur Ignatius Jacobs verteenwoordig is, in Oktober 2013 ’n mondelinge ooreenkoms met Barry Fraser, Arthur Fraser se broer, aangegaan dat Resurgent die ANC met verkiesingsondersteuning en strategiese dienste sou bystaan.

Mantashe sê hy bevraagteken hoe ’n maatskappy ’n mondelinge ooreenkoms oor meer as R20 miljoen kon aangaan. “Vra hulle om die kontrak te wys.”

Volgens die berig het Resurgent in Mei 2014 ’n rekening van R19,95 miljoen aan die ANC gestuur, maar die ANC het glo nie betaal nie.

In November verlede jaar het ’n prokureursfirma namens die maatskappy ’n brief aan die ANC se sogenaamde topses-lede van die nasionale uitvoerende komitee geskryf.

Resurgent het homself hierna tot die hooggeregshof gewend.

Resurgent wou volgens die koerant nie kommentaar lewer op die saak nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!