Maak Zuma reg vir noodtoestand?

Politieke ontleders is verdeeld oor die berigte dat die weermag ‘n taakspan aangestel het om regulasies te formuleer vir ‘n noodtoestand.

Die presidensie het ontken dat Jacob Zuma gevra het dat so ‘n taakspan saamgestel moet word, maar daar is diegene wat sê dat die Uniegebou nie weet wat hul leier doen nie.

Reeds in Mei 2017 het ‘n groep akademici ‘n verslag uitgebring getiteld “Betrayel” waarin hul beweer dat Zuma die land bestuur deur “kombuis kabinette” waar besluite geneem word buite die formele strukture.

Die vraag word nou gevra of die voorbereiding van ‘n noodtoestand gekoppel kan word aan die Oos-Transvaal magsbasis van die ANC. David Mahlobo, vorige minister van staatsekuriteit, het reeds in 2016 begin met bewerings van ‘n derde mag wat teen die staat werk. Dit was ook hy wat gepoog het om sosiale media te reguleer in Maart 2017. In Junie 2017 het Mahlobo gepraat oor die “kleur revolusie” wat in ander lande soos die Oekraïne, Iran en Tunisië plaasgevind het.

David Mabuza, premier van Oos-Transvaal, het intussen as ‘n magsfiguur na vore getree en kenners meen dat sou Zuma enige idee het om aan te bly as president, dit vanuit Oos-Transvaal gedoen sal word.

Politieke waarnemers sê niks is vergesog of onmoontlik in Zuma se boek nie. Dit terwyl Shaun Abrahams Zuma nog ‘n keer uitstel gegee het om te reageer op sy honderde klagtes teen hom.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!