Mag jy ’n inbreker in jou huis doodskiet? Ja, maar…

Mag jy ’n inbreker, wat jy in jou huis betrap, summier net doodskiet? Die kort antwoord is: Ja, jy mág ’n inbreker in jou huis skiet en selfs doodskiet. MAAR met dié antwoord saam kom ’n norring regsreëls en regsbeginsels wat ook weer in ’n paar woorde saamgevat kan word: wederregtelikheid en die redelike mens.

Philip de Bruin het die kenners gevra:
Prof. Tom Coetzee van Potchefstroom, wat sy doktorsgraad in strafreg verwerf het en lank as streeklanddros waargeneem het, stel dit só:
“As ’n lid van die publiek bewus word van ’n inbreker in sy huis, of dit nou in die dag of die nag is, en so ’n inbreker betrap, wéét hy mos dat daardie inbreker nie daar is om ’n koppie koffie te kom drink nie.
“Dit help jou niks om na die inbreker toe te stap nie en vir hom te sê: ‘Hallo, my naam is Tom Coetzee. Waarmee kan ek help? O, jy breek in? Nou beplan jy om my of my vrou of my kinders te beseer of te vermoor of te verkrag? Indien dit die geval is, wys my asseblief net gou eers jou wapen sodat ek ’n soortgelyke wapen kan gaan haal om myself mee te verdedig.’

“Teen daardie tyd is die huisbewoner natuurlik lankal ’n lyk. In ’n land soos Suid-Afrika, waar die howe geregtelik kennis kan neem van die geweldige aantal inbrake in die land waarvan die meeste met baie ernstige geweld gepaardgaan, sal die redelike mens se eerste gedagte wees dat hy homself, sy vrou en sy kinders moet beskerm teen ’n moontlike gewelddadige aanval.
“Onthou dat wat ook al die huiseienaar besluit, hy letterlik breukdele van sekondes het om te besluit of hy gaan skiet of nie. Hy het nie die voordeel van regters en aanklaers wat later in gemakstoele by hul lessenaars rustig die feite kan oorweeg om te besluit of hy billik opgetree het deur die inbreker te skiet nie.
“Dis in die meeste gevalle letterlik ’n geval van dis jy of ek. Dit is waar die geykte regsreël inkom van die redelike-mens-toets. Die redelike mens sal in sulke omstandighede nie huiwer om sy eie lewe, sy gesin se lewens en sy eiendom teen die inbreker te beskerm nie.
“As die huiseienaar ’n vuurwapen by hom het, is daar net een manier om die inbreker te stuit: Skiet hom! Dit maak nie saak of die inbreker ’n wapen van watter aard ook al by hom het nie.
“Daar kan nie van die redelike mens verwag word om die inbreker eers te vra watter wapen hy by hom het nie.
“Dit is redelik dat die huiseienaar onmiddellik skiet, al is dit ’n doodskoot. Van moord op die inbreker is daar in sulke omstandighede geen sprake nie, want die huisbewoner se handeling was nie wederregtelik nie.
“Hy het nie geskiet omdat hy keelvol is vir misdaad nie, hy het geskiet omdat hy wettig sy lewe en dié van sy gesin en sy eiendom wou beskerm.”
Die strafregkenner prof. Callie Snyman, voorheen van Unisa, stel dit in sy gesaghebbende boek Strafreg – wat in regskringe bekend staan as aanklaers se “Bybel”, so:
“Veronderstel dat X, terwyl sy in haar huis slaap, in die middel van die nag wakker word en agterkom dat ’n inbreker haar kamer of dié van ’n familielid nader. Mag X summier skiet, of moet sy die inbreker eers vra om hom te identifiseer en die doel van sy besoek te verduidelik ten einde te kan besluit wat, objektief beskou, in die omstandighede die gepaste afweerhandeling sal wees?
“Moet sy eers die inbreker in hegtenis probeer neem en dan die polisie bel?
“Daar word aan die hand gedoen dat X in so ’n situasie geregtig is om summier op die inbreker te skiet. Selfs al kom dit later aan die lig dat die inbreker ongewapen en fisiek swak was en maklik deur X oorrompel kon gewees het?…? is dit uiters onwaarskynlik dat ’n hof sal beslis dat X wederregtelik opgetree het deur na die inbreker te skiet.
“ ’n Mens se huis is jou kasteel. Dit is die laaste bastion van jou veiligheid. Ondervinding leer dat selfs ’n oomblik se huiwering deur X in dié soort omstandighede fataal vir X mag wees.
“Om aan X die reg te weier?om in sulke omstandighede te skiet, sou daarop neerkom dat van haar verwag word om met haar lewe of dié van haar familie te dobbel, en dit kan die reg nie van haar verwag nie.”
Dié siening bevredig ook die regsgevoel van Johann Gresse, voorsitter van die strafregkomitee van die prokureursorde van die noordelike provinsies.
Hy voeg by dat die openbare belang en mening ook nog ’n rol sal speel. Geen lid van die publiek sal ontevrede wees omdat ’n inbreker in ’n huis doodgeskiet word nie.

Sowel Coetzee as Snyman is dit eens dat daar nie regtens van die huisbewoner(s) verwag kan word om aan die moontlike dreigende aanval op hulle te ontkom deur eers te probeer vlug nie.
“Dit sal daarop neerkom dat sulke onskuldige mense gedwing word om die veiligheid van hul eie huis te verlaat sodat ’n inbreker sy sin kan kry. Reg moet dus die knie buig voor onreg, wat regtens onaanvaarbaar is,” sê Coetzee.
Snyman stel dit so: “Die reg verwag nie van X om uit haar eie huis te vlug as sy daar aangeval word nie. Haar huis of woonplek is haar laaste toevlugsoord – haar ‘kasteel’ – waar sy haar teen alle onreg kan beskerm.
“Boonop erken ons howe die beginsel dat as dit vir X gevaarlik is om te vlug, in die sin dat sy haar dan blootstel aan byvoorbeeld ’n steek (met ’n mes) of ’n koeël in die rug, sy nié hoef te vlug nie, maar haar aanvaller buite aksie kan stel. Dit is die aanvaller (die inbreker) wat opsetlik die wederregtelike aanval loods wat die risiko van besering of dood dra, nie die aangevallene nie.”
Coetzee en Gresse beklemtoon dit egter dié uitleg van die reg gee in geen omstandighede aan enigiemand die reg om links en regs mense te skiet nie.
Daar is ’n groot verskil tussen ’n inbreker in jou huis wat doodgeskiet mag word en iemand wat buite in jou tuin rondsluip, klaarblyklik met die bedoeling om te steel of in te breek.
“As ’n huisbewoner so iemand in sy tuin sien, is daar, weer volgens die redelike-mens-toets, geen rede om te glo dat daardie persoon inderdaad gaan inbreek nie.
“Tweedens het die huisbewoner genoeg tyd om die polisie te ontbied of sy alarmstelsel te aktiveer. Hy kan selfs waarskuwingskote in die lug afvuur om die sluiper te probeer verjaag.
“Die feit dat ’n inbreker binne-in jou huis doodgeskiet mag word, mag nooit ’n free for all word waarin later dan selfs mense op jou sypaadjie voor die huis doodgeskiet word nie.”
Die doodskiet van ’n inbreker in jou huis is reeds in 2003 deur oudregter Johann Kriegler in ’n uitspraak in die konstitusionele hof onregstreeks bevestig toe hy gesê het polisielede mag slegs tydens inhegtenisnemings waarteen verdagtes hulle verset op verdagtes skiet as die beampte “redelike gronde het om te glo”?dat die verdagte ’n onmiddellike gevaar van ernstige liggaamlike leed vir die beampte of ander lede van die publiek inhou.
Dié “redelike gronde om te glo” kan net so op ’n huisbewoner van toepassing gemaak word wat ’n inbreker in sy huis betrap, sê Coetzee.
ONTHOU: Jy bly die een wat dalk in die hof jou daad moet gaan verduidelik en dit regverdig!! Soos wat jy alleen agter jou wapen staan gaan jy dalk alleen in die hof ook staan – maak seker jy kan beide gevalle hanteer ?


Sien ook: Selfverdediging deel 2 en Noodhulp. Wanneer kan jy ‘n inbreker skiet?


 

Enjoyed this post? Share it!