Malema se Nuwejaarsboodskap doen ‘n beroep op matrieks om hulle by die tersiêre akademiese instellings van hul keuse aan te meld

Julius Malema, die leier van die EFF, se beroep op akademies verdienstelike voormalige matriekleerlinge om hulle in 2018 by die tersiêre akademiese instellings van hul keuse aan te meld, is “onverantwoordelik” en kan “rampspoedige” gevolge hê.

Só het dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, en oudrektor van die Noordwes-Universiteit, Sondag by navraag gesê oor Malema se Nuwejaarsboodskap.

“Ek dink dit kan groot probleme veroorsaak. Dit is in dieselfde kategorie as sy uitspraak dat mense grond kan vat as hulle dit sien. Dit is nie ekonomies haalbaar nie. Dit kan selfs rampspoedige gevolge inhou as mense met hoë verwagtinge by universiteite opdaag. Ek dink onwillekeurig aan die ouer wat ’n paar jaar gelede in ’n stormloop by die Universiteit van Johannesburg dood is,” sê Eloff.

Hy sê dié oproep van Malema is onrealisties omdat die meeste universiteite reeds hul eerstejaars vir 2018 in Junie gekeur en aanvaar het en dat “bitter min” van hulle steeds plek sal hê vir nuwe studente.

“Malema speel politiek en probeer stemme werf vir 2019.”

Die EFF-leier het in sy boodskap ’n beroep gedoen op almal wat matriek in die verlede “uiters goed” geslaag het en hulle nou as petroljoggies of in handels- of veiligheidswerk bevind omdat hulle nie klasgeld kon bekostig nie, om in die nuwe jaar by ’n “akademiese instelling van hul keuse aan te meld”.

“Die EFF sal by die hekke van alle opvoedingsinstellings wees om te verseker dat voorkeur nie net gegee word aan diegene wat dit kan bekostig om te betaal nie,” lui sy boodskap.

Ingevolge die inskrywingsplan sal 208 000 nuwe studente in 2018 by universiteite aanvaar word, waarvan rofweg 35% vir finansiële hulp kwalifiseer.

Sy uitspraak kom nadat pres. Jacob Zuma twee weke gelede gratis tersiêre onderrig aangekondig het vir studente wat uit arm en werkersklasgesinne kom.

Prof. Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van die Universiteite Suid-Afrika-forum, het op sy beurt gesê die departement en die minister van hoër onderwys het ooreengekom dat universiteite studente sal inskryf op grond van die inskrywingsplan wat met die departement ooreengekom is. Dit is deel van ’n siklus van vyf jaar.

“Wat ons betref, behoort ons nie ’n massiewe toename in studentegetalle te sien nie. Daar is nie ekstra kapasiteit vir nog studente nie.”

Ingevolge die inskrywingsplan sal 208 000 nuwe studente in 2018 by universiteite aanvaar word, waarvan rofweg 35% vir finansiële hulp kwalifiseer.

Al wat universiteite kan doen as studente wat nie aansoek gedoen het nie by universiteite opdaag, is om hulle na die elektroniese sentrale aansoekstelsel vir universiteite te verwys, sê Bawa.

“Daar sal waarskynlik meer angstigheid en kommer wees oor hoe die nuwe stelsel gaan werk, en die universiteite sal voorsorg daarvoor tref. Ons wil nie ’n herhaling sien van wat ’n paar jaar gelede by die Universiteit van Johannesburg gebeur het toe ’n ouer in ’n stormloop dood is nie.”

Hy erken dat “woede” uitgespreek is weens die gebrek aan raadpleging op ’n vergadering tussen die forum en die departement toe hulle onlangs vergader het oor Zuma se aankondiging.


 

Enjoyed this post? Share it!