Malema se redes oor hoekom Afrikaans moet val

Vir 100 jaar is Afrikaans en die kultuur wat die taal met hom saamdra ten koste van etnies swart Suid-Afrikaners se moedertale en kulture uitgebou en beskerm. Afrikaans as onderrigtaal is ook aan swart hoërskoolleerlinge opgedwing, wat hulle in 1976 daarteen verset en in bloed vir dié verset betaal het.

Die enigste manier om dié historiese onregte reg te stel, is om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal, skryf die EFF-leier, Julius Malema, in navorsing wat hy gedoen het vir die BA-honneursgraad in filosofie wat hy in September by Unisa verwerf het.

Rapport het Malema se 2016-navorsingsverslag bekom met ’n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia).

Die EFF-leier sit uiteen hoe Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners tydens apartheid verseker het hul kultuur en wêreldbeskouing geniet voorrang – ook op kampusse – bo swart Suid-Afrikaners se tale en kulture, wat deur koloniale owerhede voor 1910 en deur elke Suid-Afrikaanse regering ná 1910 as minderwaardig beskou is.

In die skripsie myn hy diep in die idees van die swartbewussynsleier Steve Biko, die anti-koloniale filosoof en denker Frantz Fanon, die taalfilosoof Noam Chomsky, vername Afrika-akademici soos Mahmood Mamdani en Ali Mazrui en skrywers soos die Keniaan Ngugi wa Thiong’o.

Hy beskou die wegdoen met Afrikaans (“Afrikaans must fall”), die bemagtiging van swart tale op universiteitsvlak en gratis tersiêre onderrig as noodsaaklike ingrypings om universiteitsopleiding meer toeganklik vir swart mense te maak.

‘Wie se belange word gedien?’

“Die oproep #AfrikaansMoetVal is ook ondersteun deur swart studente wat Afrikaans praat as ’n eerste taal, omdat Afrikaans ’n wit konstruk is wat swart studente kultureel uitsluit en op universiteite ondermyn,” skryf Malema, sonder om voorbeelde van sulke swart Afrikaanssprekendes se steun vir die veldtog te noem.

“Dit is die skrywer se siening dat die oproep dat Afrikaans moet val essensieel ’n oproep is vir die
beëindiging van wit opperheerskappy in Suid-Afrika.”

Hy voer herhaaldelik aan dat bruin studente sy aandrang op Afrikaans se stilmaak steun omdat Afrikaans “ongelykhede tussen swart en wit” in stand help hou.

“Wanneer Afrikaans val, word die toestande geskep waarin ’n meer gelyke samelewing verbeel kan word. Een wat kan lei tot ware versoening, maatskaplike geregtigheid, ekonomiese bevryding, en die einde van die taalkundige en kulturele oorheersing deur wit Afrikaners.”

Dié oorheersing het al met die koms van Jan van Riebeeck begin, maar is ná 1948 geformaliseer deur die Nasionale Party, wie se polisie na raming meer as 170 jong betogers op 16 Junie 1976 doodgeskiet het – die dag toe Afrikaans vir baie swart Suid-Afrikaners ’n simbool van verdrukking geword het.

“Die fundamentele vraag is wie se belange gedien word deur Afrikaans aan tersiêre instellings, histories en tans? Is dit nie ’n feit dat die gebruik van Afrikaans by hierdie voormalig Afrikaanse universiteite wit oorheersing, kulturele dominering, ’n neo-apartheidpsige en kulturele onverdraagsaamheid versterk nie? Die morele en demokratiese vraag is of die wegdoen met Afrikaans nie groter toeganklikheid sal skep vir swart studente en sal lei tot laer klasgeld en ’n hoër slaagsyfer nie?”

Malema verwys nie na die feit dat daar geen uitsluitlik Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika oor is nie.

Hy gee wel toe dat ook Engels die inheemse tale “oorheers”, maar vra nie vir die wegdoen met Engels nie.

Afrikaans is nie al wat hom pla nie.

Hy het dit teen die feit dat wit kultuur en Westerse filosofie steeds hier as die norm beskou word.

“Die pogings tot kulturele oorheersing het voortgespruit uit ’n engheid wat nie diversiteit waardeer of gerespekteer het nie,” skryf hy.

Daarom verdien Afrika-filosofie en intellektuele tradisies ’n prominenter plek as in die verlede.

Malema eggo dan die idee van Ghana se eerste president, Kwame Nkrumah, dat “Afrika se samelewings die Westerse en die Islamitiese en die Euro-Christelike elemente sal opneem en hulle op so ’n manier sal ontwikkel dat dit inpas by die persoonlikheid van Afrika”.

“Die huidige stryd vir die beëindiging van wit heerskappy, wat voortleef in die Afrikaanse taal, gebeur hoofsaaklik omdat die jeug glo dat nie genoeg in die verlede gedoen is om ware vryheid te verseker nie. Dit is my siening na aanleiding van my navorsing dat jong swart mense vir ware vryheid veg sonder om te wil hoor wat die ou garde daaroor te sê het, deels omdat die ou garde self nie genoeg gedoen het om vryheid in ons leeftyd ’n werklikheid te maak nie.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Piet Boer

    En hy kry ‘n meestersgraad vir die snert? Sê veel van die universiteit. Daar is gewoon te veel verwyse na menings, wat beslis nie feitelik is nie en ook deur minderheid gesteun word. Eenogig, eensydig, onfeitlik, dus onwaar. Die groot groep van leiers wat nog steeds na 23 jaar nog steeds verwys na apartheid as al wat sleg was net om hulle eie onbevoegdheid te verbloem, hulle magsposisies uitbuit en misbruik, hulle waansinnige gejaag na weelde en selfs met bedrog verwerf sal so bly. Hulle behoort eintlik te vernuwe, te bevorder, werlik om te gee en slegs dan sal dit beter gaan. Om die baie min Afrikaanse mense te verdruk, vermoor, onteien, mishandel en en en, gaan mos niks doen om die massas swart mense se lewens te verbeter nie. Maak nie sin nie.