Man 63 op hoewe in Centurion doodgeskiet

Polisie kry man se lyk in plas bloed
 ’n Man is in ’n gewapende rooftog op ’n hoewe in die Laezonia-hoewegebied naby Centurion doodgeskiet.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het in ’n verklaring gesê die polisie het Saterdag omstreeks 20:00 op die lyk van Wayne Skews (63) in ’n plas bloed buite sy huis afgekom.

Luidens die verklaring het Skews die honde buite sy huis hoor blaf en ondersoek ingestel. Hy is buite deur vier gewapendes geskiet.

 Hy is in die bolyf getref.

Die rowers het in die huis ingegaan waar hulle op Skews se vrou, Susan, en hul twee kinders afgekom het.

Hulle is met toue vasgemaak.

Selfone, ’n beursie en ’n vuurwapen is gesteel waarna die rowers gevlug het.

Nooddienste het Skews op die toneel dood verklaar. Susan en die twee kinders is ongedeerd.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die Erasmia-polisiekantoor ondersoek klagte van moord en huisroof.

Familie en vriende het huldeblyke op Facebook geskryf.

“Dit is ’n ongelooflike hartseer dag vir die Skews-familie. [Wayne] was ’n seun, eggenoot, pa, oupa en broer. Die wêreld is reeds leër. RIV, boetie,” skryf Grant Skews.

“My pappa, jou hart van goud sal vir ewig deel wees van my! Ek mis jou reeds. Die lug het nou die helderste ster. Jy is so dapper! Dankie dat jy die beste pa vir al ses van ons was en die snaaksste oupa vir jou vier kleinkinders. Die wêreld is nie dieselfde sonder jou daarin nie!” skryf Megan Skews, sy dogter.

“Jou reis sou nooit een van gemak en gerief wees nie. Jy het eerder ’n rit vol waarheid en dapperheid gekies. En tonne vol pret en ’n tikkie waansin, maar meestal [was jy] net lief vir jou familie.

“Ek is lief vir jou, my broer. Ek het geen twyfel nie jy het reeds ’n gek swaai gekry om te bou of mal lugskoene gekry om in rond te spring. Sê hallo vir ma [en] gee vir haar ’n drukkie van die Skews-seuns af,” skryf Jono Skews, Wayne se broer.

Volgens Wayne se Facebook-blad het hy aan Unisa studeer en kom hy oorspronklik van Bulawayo, Zimbabwe.

Susan is die eienaar en bestuurder van Trilogy Jewellers.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!