Man op kleinhoewe naby Springs met warm strykyster en tang gemartel

ʼn Man is Dinsdagoggend vir ure lank op ʼn kleinhoewe in die Vischkuil-gebied buite Springs met ʼn warm strykyster en ʼn tang gemartel nadat hy deur vier gewapende aanvallers oorval is.

Anton Muller (35) het Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê hy besef hy is gelukkig om te leef ná die traumatiese aanval.

“Die Here het mooi na my gekyk, want hulle was van plan om my dood te maak. Drie van die
aanvallers het nie balaklawas aangehad nie en een van hulle het vir my reguit gesê hulle gee nie om dat ek hulle gesigte sien nie, want hulle gaan my in elk geval doodmaak,” het hy gesê.

“Op so ’n oomblik maak jy jou maar reg vir die ergste. Ek het net so hard as wat ek kan gebid en bly hoop en glo.”

Muller, wat alleen op die kleinhoewe woon en in Johannesburg werk, het omstreeks 01:30 wakker geword en kombuis toe gestap. Voordat hy egter by die kombuis kon kom, het die vier aanvallers vanuit ʼn ander vertrek in die huis verskyn. Hulle het die agterdeur oopgebreek om toegang tot die huis te kry.

Drie van die mans het handwapens met knaldempers op by hulle gehad. Hulle het Muller kamer toe geneem waar hulle sy klere uitgetrek en sy hande agter sy rug vasgemaak het. Daar het hulle ʼn strykyster by ʼn kragprop ingeprop en begin om hom daarmee te brand. Hulle het ook ʼn tang gebruik om hom te martel terwyl hulle op geld aangedring het.

“In ʼn stadium het hulle my deur die huis laat stap en gesê ek moet vir hulle die geld en die kluis wys. Ek het aanhou sê ek het nie geld nie, maar hulle het volgehou en gesê hulle weet hier is geld in die huis,” het Muller gesê.

Die aanvallers het verskeie voorwerpe gebruik om Muller te slaan elke keer as hy ontken het hy het geld.
Uiteindelik het die aanvallers omstreeks 04:30 op die vlug geslaan met ʼn televisie, ʼn elektriese boor, ʼn klankstelsel, klere, vleis uit die vrieskas en kruideniersware. Muller kon daarin slaag om hulp te ontbied en is na ʼn dokter geneem vir mediese behandeling.

Volgens Muller is daar reeds reëlings getref om die veiligheid op die kleinhoewe op te skerp, maar beplan hy om terug te keer na die huis toe.

“Dit maak nie saak waar jy bly nie, as hulle wil inkom, gaan hulle inkom. Ek geniet die plaaslewe en ek gaan my nie deur misdadigers laat afskrik nie. Al wat mens kan doen, is probeer om op en wakker te wees en jouself te beskerm,” het hy gesê.

“Ek kan net dankie sê vir die Here, want ek weet Hy het na my gekyk.”

Die plaaslike polisiewoordvoerder kon ondanks verskeie pogings nie Dinsdagmiddag telefonies bereik word nie.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!