Man word trompop in sy huis geskiet

’n Professionele jagter van Modimolle (Nylstroom) in Limpopo is Dinsdagmiddag trompop in sy huis geskiet terwyl hy op sy bed gesit en TV kyk het.

Sakkie Bloem (36) was in sy huis in Springboklaan in ’n stil woonbuurt van die dorp toe hy voor 16:00 oorval is.

Dit is nie duidelik hoe die drie mans in die huis ingekom het nie. Bloem het iets in die huis gehoor, vooroor op sy bed geleun en “toe klap ’n skoot,” het ’n kennis, wat anoniem wil bly gesê.

“Hy het ’n skerp pyn in sy bors gevoel. Die volgende oomblik was een van die mans bo-op hom.”

Sy hande is met die kabel van ’n selfoonlaaier vasgemaak en ’n handdoek is oor sy gesig gegooi.

Twee van die mans het blou oorpakke aangehad en hul makker het ’n bont hemp gedra.

Die mans het wapens gesoek. Bloem het gesê dit is op die plaas. Hy is ’n professionele jagter by JP Big Game Safaris.

Toe wou die aanvallers weet waar sy kluis is.

Hy het gesê hy het nie ’n kluis nie.

“Hulle het sy bakkie se sleutel gesoek. Hy het gesê dit is in die bakkie,” het die kennis gesê.

Bloem het gedink die mans is uit die huis en hy het probeer om van die bed af te rol. Hulle was egter steeds in die huis op soek na goed om te steel.

Hulle het daarna teruggegaan na sy kamer en sy hande en voete vasgebind voordat hulle in sy wit Toyota-bakkie met ’n jaggeweer van hom binne-in weggejaag het.

“Toe hy hoor die bakkie ry, het hy van die bed afgerol en met ’n gesukkel ’n tang gekry om sy hande los te sny,” het die kennis gesê.

Hy het bebloed oor die straat na ’n buurman van hom gestrompel. Die man het dadelik met hom na ’n plaaslike dokter se spreekkamer gejaag.

Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in samewerking met die polisie en Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie, het blitsvinnig gereageer.

Van hulle het die gesteelde bakkie agternagesit.

Die drie mans het die bakkie naby die Pienaarsrivier-afrit op die N1-hoofweg in die bosse gelos. Hulle het in die bosse ingevlug.

’n Helikopter is ontplooi en lede van plaaswagte in die gebied het per radio met mekaar gekommunikeer om met die soektog te help. Die aanvallers se spore is gevolg en omstreeks 17:00 is een van hulle deur die polisie vir ondervraging in hegtenis geneem.

Plaaswaglede het tussen die Pienaarsrivier-afrit en die afrit na die Carousel-casino in Gauteng die bosse gefynkam.

Bloem is tans in die Montana-hospitaal in Pretoria. Die koeël het glo nie sy organe beskadig nie.

Inwoners van Modimolle is geskok oor die rooftog helder oordag.

Die polisie, sowel as die GPF en HPG, het Dinsdagaand hul soektog na die ander twee aanvallers voortgesit.

jagter word geskiet


 

Enjoyed this post? Share it!

 
  • Ernie Hall

    Jissis!!!!!