Matie Studente skuldig bevind na voorval met Nazi plakkate

Die dissiplinêre verhoor van drie Matie-studente wat betrokke was by die Nazi-agtige plakkate wat grootskaalse rumoer by die Universiteit Stellenbosch (US) in Mei veroorsaak het, is Donderdagoggend vroeg afgehandel.

Al drie studente is skuldig bevind op ‘n regulasie dat ‘n student nie op ’n manier mag optree wat rassisties, onbillik diskriminerend, gewelddadig, grof beledigend, vernederend of intimiderend teenoor enige ander persoon is nie.

Hierdie verbod strek, maar is nie beperk nie, tot gedrag wat liggaamlike of geestelike skade veroorsaak, bedoel is om te verneder of wat enige ander persoon se waardigheid aantas.

’n Student mag ook nie op ‘n manier optree wat die handhawing van orde en dissipline aan die Universiteit ontwrig, of moontlik kan ontwrig nie.

Die studente, waaronder Dean Dart (22), ‘n eerstejaar student, moet nou altesaam 100 ure gemeenskapsdiens voltooi voor die einde van die eerste semester van 2018. Daarvan moet 60 ure voor die einde van die 2017 akademiese jaar voltooi word.

Die studente moet ook ‘n regstellende werksopdrag uitvoer, met as sleutelonderwerp, hoe om konstruktief op kampus in gesprek te tree met inagneming van diverse narratiewe.

Die eerste konsep moet teen die laaste dag van die derde kwartaal van 2017 by die paneel ingedien word, die tweede konsep teen die laaste dag van die 2017 akademiese jaar en die finale werkopdrag teen die eerste Maandag van Februarie 2018.

Van die oorblywende 40 ure van die 100 ure gemeenskapsdiens, moet dit gebruik word om idees oor konstruktiewe interaksie uit die regstellende werkopdrag te implementeer.

“Indien enige van die drie studente nalaat om enige van die genoemde strafmaatreëls na te kom, sal hulle onmiddellik uit die US geskors word,” het die US in ‘n verklaring gesê.

Sodra die studente die redes vir die SDK-besluit ontvang het, het hulle vyf dae om aan te dui of hulle van plan is om teen die beslissing te appelleer.

Die plakkate het verkondig dat The New Right/Anglo-Afrikaner Student op Donderdag 11 Mei ’n vergadering sou hou. Die tema van die vergadering was Veg vir Stellenbosch.

Dart, wat dié Donderdag studente op die Rooiplein wou toespreek, het ná die voorval beweer daar het nooit ’n Anglo-Afrikaner-studenteunie bestaan nie.

“Die idee agter die plakkate was om ’n spieël vir studente te skep. Die studente is meer links en sal enigiets met die woord ‘Afrikaner’ daarin veroordeel. Ek wou dit bewys,” het Dart, wat kort ná die voorval geskors is, destyds aan Netwerk24 gesê.

Bron: Netwerk24 Eikestad Nuus
Skrywer: Dawie Boonzaaier


Enjoyed this post? Share it!