Mbalula aan polisie: ‘Julle moet beter skiet’

Fikile Mbalula, minister van polisie, het lede van die SAPD gemaan om deurentyd aan hul vaardighede en doeltreffendheid te werk.

“Julle moet verbeter, insluitend jul skietvermoë. Julle moenie mis skiet nie. Kom kyk na my as ek skiet, ek skiet nie mis nie. Ek skiet reguit en baie, baie vinnig. Ek kan terselfdertyd skiet en kruip. Almal van julle moet waaksaam wees, want misdadigers is brutaal; hulle neem ons geliefdes van ons af weg,” het Mbalula by die jaarlikse
herdenking vir gevalle polisiebeamptes in Pretoria gesê.

Volgens die polisie is 40 beamptes tussen 1 April 2016 en 31 Maart 2017 dood. Mbalula het verder gesê die polisie wil nie ʼn gewelddadige nasie hê nie, maar wil oortreders dieselfde hanteer as wat húlle ander hanteer. Hy het ook ʼn boodskap aan oortreders gestuur. “Maak nie saak waar julle is nie, ons kom vir julle en ons sal julle kry. Ons
gaan die strate skoonmaak en julle uit julle gate uit rook. Ons sal misdaad beveg met die vurigheid van ʼn bul wat in ʼn hoek gedruk word.”

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!