Mbalula wil “Swart Maandag” optogte, organiseerders vervolg

‘n Uiters plofbare situasie is aan die ontstaan omdat organiseerders van die Swart Maandag optogte vervolg gaan word, skynbaar in opdrag vanuit parlementêre kringe.

Dit volg op die minister van polisie wat die Swart Maandag protesoptogte gekritiseer het en beskryf het as ‘n “rasse meerderwaardige protes”.

Volgens hom is armoede die groot oorsaak van moorde in swart gebiede en is die 74 plaasmoorde van ‘n totaal van 19 000 moorde in die jaar eintlik niksseggend.

Die optogte het volgens hom ‘n politieke agenda en hy beweer voorts dat van die persone wat swart gedra het dalk betrokke was by van die 19 000 moorde.

Intussen is hy uitgevang dat hy fopnuus versprei deur foto’s op Twitter te plaas van mense wat die ou Republiekvlag sou vertoon het. Dit blyk toe stokou foto’s te wees van vorige protesoptredes.

Landbouleiers sê dat met sodanige uitsprake en optrede, dit duidelik is dat die regering absoluut geen wil het om besondere aandag aan plaasmoorde te gee nie.

Mbalula is ook skerp gekritiseer deur dr. Pieter Groenewald, leier van VF Plus.

Elke moord in Suid-Afrika is een moord te veel, maar veral plaasmoorde raak almal in Suid-Afrika direk omdat dit voedselsekerheid in die gedrang bring, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Die minister (Fikile Mbalula) sê ek maak politiek van plaasmoorde. Hy is verkeerd. Plaasmoord is ʼn prioriteit in Suid-Afrika want dit moet voedselsekerheid verseker. Die minister kan gerus ʼn voorbeeld neem by die minister van landbou (Senzeni Zokwana) wat gevra het mense moet bid vir die boere en hul plaaswerkers.

“In teenstelling daarmee versprei die minister boodskappe op sosiale media wat vals nuus is. Hy versprei foto’s van die ou Suid-Afrikaanse vlag wat vals is en wat niks te doen gehad het met die protes nie,” sê dr. Groenewald.

Hy sê plaasmoorde raak elkeen in die land. “Of jy nou wit, swart, Indiër of bruin is, jy moet eet. As daar nie meer boere is nie, gaan daar nie meer kos op jou tafel wees nie. Dit raak jou direk met elke boer wat vermoor word.”

Verskeie organiseerders van die gebeurtenisse is reeds aangesê om by hulle polisiestasie aan te meld sodat hulle aangekla kan word. In die jongste voorval is ‘n bekende van Warmbad, mnr. Pieter Wagner, aangesê om vandag om 11 uur by Warmbad se polisiestasie aan te meld in verband met die bymekaarkoms by die Settlers-afrit op die N1, en ‘n bidbyeenkoms op die parkeerterrein van ‘n afgebrande winkel. Groot gemeenskapsteenwoordigheid word by die polisiekantoor verwag uit protes teen die vervolging.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!