Mediese praktisyn sonder kwalifikasies word in Springs in hegtenis geneem -Suid Afrika is vol fop dokters

Die ontvangsdame in ’n dokter se spreekkamer was stomverbaas om te hoor dat haar baas na bewering nie ’n gekwalifiseerde dokter is nie.

Mashela Marthina Mokgabudi (41) is die afgelope week deur lede van die inspektoraat van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika in haar spreekkamer in Springs in hegtenis geneem.

Volgens ’n ooggetuie het Mokgabudi volgehou sy ís ’n dokter wat by Wits studeer het.

Sy is al protesterend by die gebou uit begelei.

Tanya Lindeque van die inspektoraat wat die saak ondersoek het, sê ’n lid van die publiek het hulle van die “dokter” se beweerde gebrek aan kwalifikasies laat weet.

“Daar was geen naambordjies buite op die gebou wat haar dienste as ’n mediese praktisyn adverteer nie, maar sy het die titel gebruik,” sê Lindeque.

Volgens Lindeque was Mokgabudi voorheen as fisioterapeut by die raad geregistreer, maar dié registrasie het al verval.

Sy sal voorlopig van ’n oortreding van mediese beroepswetgewing aangekla word.

Mokgabudi het Woensdag in die landdroshof in Springs verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Deur: Erika Gibson/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!