Melkboere sukkel alhoewel melkpryse duurder is

Melk word duurder – maar boere in knyptang

Melkproduksie is vanjaar reeds 4,2% laer as in die eerste ses maande van verlede jaar en sal aanhou daal tensy die produsenteprys drasties verhoog.

Die daling is veroorsaak deur ’n skerp verhoging in insetkoste, veral van voer, sonder ’n voldoende styging in die prys wat die melkprodusente ontvang, volgens dr. Koos Coetzee, senior ekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO).

“Produsentepryse is sedert die begin van 2016 nie op ’n vlak wat hoër produksie aanmoedig nie en die produksiedaling sal aanhou tensy produsentepryse aansienlik verhoog word.”

Hy verduidelik die verskil tussen die kleinhandelprys van melk en die prys wat die melkprodusent ontvang, het van R5,44 per liter in 2010 tot die huidige R10 per liter gerek.

Die verlangsaming van die kleinhandelprys was veral in 2015 baie duidelik, maar kleinhandelpryse het sedert April vanjaar begin styg.

Melkboere, daarenteen, het 2016 ingegaan met ’n laer produsenteprys, hoofsaaklik weens ’n ooraanbod in 2015 en ook omdat langlewemelk ingevoer is, wat druk op die melkprys geplaas het.

Gevolglik het melkverwerkers vanaf April 2015 skerp prysverlagings in die produsenteprys van melk toegepas.

Die prys het teen die einde van verlede jaar effens gestyg en weer van Februarie 2016 af. Die jongste prysstyging sal die produsenteprys van melk weer op sowat R4,70 per liter te staan bring.

Koste van voer

Maar sekerlik die grootste krisis wat die melkboere sedert verlede jaar in die gesig staar, is die hoë voerkoste.

“Voerkoste is die belangrikste kosteartikel vir melkprodusente en droogtetoestande het in 2015 tot ’n skerp styging in die prys van mielies en sojaboon gelei,” verduidelik Coetzee.

’n Verswakking in die waarde van die rand en onsekerheid oor vanjaar se oes het verdere stygings in graanpryse tot gevolg gehad.

Boere wat hul melkbeeste op volvoerstelsels voer en min of geen natuurlike weiding het nie, kry nou baie swaar.

“As die produsenteprys van melk afneem in verhouding tot voerpryse, dan sal boere noodgedwonge minder melk produseer. Die verhouding is tans baie ongunstig en heelwat laer as die langtermyngemiddeld, wat ongetwyfeld ’n negatiewe impak op melkproduksie se groei sal hê.”

Die MPO se jongste ontleding van die suiwelmark toon dat die kleinhandelverkope van suiwelprodukte aanhou groei, met besonder sterk groei in veral die sektor vir langlewemelk.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!