Met plaasaanvalle wat toe neem, meen kenners dit is ‘n tikkende tydbom

Die mees onlangse plaasaanval in die Vrystaat op mnr. Johnny Muller en sy gesin van Frankfort, word met die grootste afkeur deur die VF Plus veroordeel.

Mnr. Muller is die naweek op sy plaas aangeval en in die gesig geskiet. Hy sal later geopereer word nadat hy net so sy oog geskiet is. Hy is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal.

Die VF Plus is uiters bekommerd oor die toename in plaasaanvalle in die Vrystaat en regoor Suid Afrika, sê mnr. Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat.

“Die voortdurende plaasaanvalle met weinig tot geen daadwerklike pogings van die ANC-regering om dit hok te slaan nie, is ʼn tydbom wat besig is om te ontplof. Om te sê boere en die algemene samelewing is keelvol hiervoor, is om dit baie sagkens te stel.

“Gemeenskappe is toenemend besig om hulself in landelike en stedelike gebiede te organiseer om weerstand teen die onsinnige en onmenslike misdaad, wat al hoe meer wreedaardig word, te bied. Die VF Plus verwelkom enige optrede van die samelewing om hulself te verdedig, solank dit binne die raamwerk van die wet is.

“Die VF Plus staan gemeenskappe by om hulself te organiseer met stelsels wat landelike- en buurtbeveiliging vergemaklik.

“Plaasaanvalle gaan met geweldige wreedheid gepaard wat die landbougemeenskap in opstand laat kom teen goedkoop woordspelings vanaf regeringskant wat die krisis in hierdie verband probeer afwater en veralgemeen tot doodgewone misdaad.

“Die VF Plus het reeds in die verlede gesê dat dit duidelik is dat die samelewing aan hul eie genade oorgelaat is, aangesien die regering nie die politieke wil het om plaasaanvalle te bekamp nie. Boere moet hiervan kennis neem en ten alle tye paraat wees en die hulself weerbaar maak,” sê mnr. Van Niekerk.


Enjoyed this post? Share it!