Metropolisie se fiasko in ‘n protes

Skaars ‘n paar uur nadat ses hoogs gespesialiseerd anti-betogingsvoertuie ter waarde van R27 miljoen amptelik in Johannesburg in gebruik geneem is, kon dit weens “tegniese oponthoude” nie tydens ‘n gewelddadige betoging in Riverlea ontplooi word nie.

Die Johannesburgse metropolisie het net die dag voor die protesoptrede die vier mobiele eenhede en twee betogingsvoertuie in gebruik geneem.

Tydens die geselligheid om die voertuie in gebruik te neem, is aangedui dat dit dadelik ingespan sou word om misdaad te beveg, openbare wanorde te beheer, noodtoestande te hanteer en intelligensie-inligting te versamel.

Die voertuie is glo uitgestuur, maar het nie by die betogings aangeland nie weens “tegniese probleme,” aldus die metropolisie se woordvoerder Wayne Minnaar.

Honderde woedende inwoners van plakkerskampe het Ontdekkersweg (Hoofweg in Johannesburg) en Kommandostraat in Riverlea ingevaar en dit met glas, klippe en brandende bande versper. Volgens hulle handel die betoging oor huisvesting en elektrisiteit asook dienslewering.

Die nuwe voertuie beskik oor spesiale kameras waarmee sulke betogings op video geneem kan word en die aanstigters van die geweld duidelik vertoon sal word.

Die vier mobiele eenhede is busse wat toegerus is, en sal ook dien as satellietkantore vir amptenare van die Johannesburgse metropolisie as hulle padblokkades beman.

 Bron: Vryburger


Enjoyed this post? Share it!