Min geloof geheg aan die minister van finansies se versekering oor veiligheid van pensioengeld

Daar word min geloof geheg aan die minister van finansies, Malusi Gigaba, se “versekering” dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gedruk word om geld te gee om onder andere SAL te red van finale bankrotskap.

SAL is reeds tegnies bankrot, en het miljarde nodig om te oorleef. As deel van sy oorlewingstrategie het hy reeds verskeie vlugte na Afrika gekanselleer het.

Gigaba het gesê dat pensioengeld in die OBK veilig is en die geld daar is nie in gedrang nie.

Die VF Plus het laat weet hy sal hom nie laat flous deur Gigaba se ontkenning nie.

Adv. Anton Alberts van VF Plus sê hy het van bronne in die OBK verneem dat daar ‘n werklike aanval op dr. Dan Matjila, die hoof van die OBK, is om die OBK-raad te dwing om pensioenarisse se geld in gekaapte en falende entiteite soos SAL, ESKOM, PetroSA en ander in te stoot.

“Die VF Plus steun dr. Matjila en sy span daarom ten volle en het reeds ‘n regspan in plek om namens die GEPF-pensioenarisse op dieselfde gebeurlikheidsgrondslag op te tree as die regspan van die Transnet-pensioenarisse.

“Daar kan geen waarde geheg word aan die minister se uitsprake dat hy geen amptelike óf nie-amptelike versoeke aan die OBK gerig het om R100 miljard van sy geld as reddingsboei vir die entiteite te gebruik nie. Die ANC het al by herhaling gewys dat hy nie vertrou kan word nie.

“Die VF Plus hou die situasie fyn dop en sal die regspan versoek om op te tree indien die OBK se geld wel in die gedrang kom,” sê adv. Alberts.

Foto: Adv. Anton Alberts

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!