Minister aangekla

David-Mahlobo-300x199Die Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo, staar twee klagtes in die gesig nadat Herman van Schalkwyk (67) van Oos-Transvaal verlede Woensdag in ‘n botsing met sy blouligkonvooi dood is.
Die DA het ‘n klag by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ingedien en die familie het ‘n klag van strafbare manslag teen Mahlobo aanhangig gemaak.
Mahlobo het Maandag in ’n verklaring gesê hy is op pad na Van Schalkwyk se naas­bestaandes om sy medelye aan hulle te betoon. Die familie het nadat hulle regsadvies ingewin het, geweier om hom te sien.
Brian Dube, die Minister se woordvoerder, het by navraag gesê Mahlobo was nie in die Jeep toe die ongeluk gebeur het nie.
Hy het egter nie vrae beantwoord oor of Mahlobo wel in een van die staatsvoertuie in die konvooi was of waarheen hy op pad was toe die ongeluk op die R33 buite Carolina in Oos-Transvaal gebeur het nie. Dié besonderhede maak deel uit van die polisie se ondersoek, sê hy.
Ken Robertson, DA-leier in die Albert Luthuli- plaaslike owerheid, sê sy party sal daarop aandring dat die saak tot op die been oopgevlek word en hulle sal druk op Mahlobo plaas om uit te vind na watter staatsgeleentheid hy op die dag van die ongeluk op pad was.
Hulle wil ook weet waarom die konvooi so gejaag het.
Die DA gaan Mahlobo ook by die parlementêre etiekkomitee aankla omdat hy glo die ongelukstoneel verlaat het en nie gesorg het vir mediese hulp vir die slagoffer nie.
Volgens ’n ooggetuie het ’n Jeep die dag van die ongeluk regs verby ’n afleweringsvoertuig gejaag en van voor teen Van Schalkwyk se voertuig gebots het. ’n Derde blouligvoertuig het daarna glo naby die toneel stilgehou en die insittendes in die Jeep wat in die ongeluk was, opgelaai voordat mediese hulp vir Van Schalkwyk opgedaag het.
Van Schalkwyk se naasbestaandes het aan die DA gesê hulle sal Mahlobo nie in hul huis toelaat om om verskoning te vra nie omdat hulle ’n saak van strafbare manslag teen hom aanhangig gemaak het. Die familie het ook gesê hulle gaan die staat vir skadevergoeding dagvaar. – Vryburger

Enjoyed this post? Share it!