Minister meen staatstoelaes van R753 genoeg om te oorleef maar blaas R11 000 belasting geld per nag op luukse hotelverblyf

 Terwyl sy meen R753 per maand is genoeg vir ’n maatskaplike toelae, het Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, Sondagaand teen R11 000 in die luukse Oyster Box-hotel in Umhlanga Rocks tuisgegaan, sê die DA.

“Dié hotelverblyf maak dit duidelik sy sou nie self op die R753 kon oorleef waarvan sy verwag miljoene Suid-Afrikaners moet van maand tot maand leef nie,” sê Bridget Masango, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, in ’n verklaring.

Die DA het Dlamini verlede week uitgedaag om saam met hom te gaan inkopies doen om te sien hoe ver ’n mens met R753 kan kom, het Masango uitgewys.

 “Dis geen verrassing nie dat die minister nie op ons uitnodiging gereageer het nie en eerder besluit het om meer geld op verblyf in ’n luukse hotel te blaas terwyl die mense wat sy beloof het om te beskerm in armoede kwyn.”

Die party wil hê die regering moet die maatskaplike toelae verhoog, maar die voorstel is in die parlement afgeskiet.

Wat die hotelbedryf betref, sê Lumka Oliphant, Dlamini se woordvoerder, die minister gaan nie op skinderpraatjies reageer nie.

Dlamini se kantoor het in ’n verklaring gesê die DA is skynheilig omdat die party glo op talle platforms verklaar het maatskaplike toelaes maak mense net afhanklik en veroorsaak dat mense nie werk soek nie.

Bykans 16 miljoen Suid-Afrikaners ontvang maatskaplike toelaes.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!