Minister van Polisie vra weermag se hulp om misdaad te bekamp

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Dinsdag ʼn beroep op die weermag gedoen om die polisie by te staan om misdaad in Gauteng en die Wes-Kaap te beveg.

“Toe ek die gemeenskap in Elsiesrivier besoek het, het een gemeenskapslid die bendegeweld as terreurdade beskryf. Ek wil vir julle sê ek het julle gehoor en ek neem aksie,” het Mbalula gesê.

Vuyo Mhaga, Mbalula se woordvoerder, het gesê Suid-Afrika is “verswelg deur die opkoms van uiters gewelddadige misdaad” wat gemeenskappe onveilig laat voel.

Hy het gesê dringende bykomende stappe moet gedoen word om die vlaag van misdaad in dié twee provinsies te probeer bestuur.

“Die stabilisasie en bevegting van kriminele aktiwiteite val binne die mandaat van die polisie, maar weens die groot groeperings en militêre opleiding van sommige van die oortreders word die weermag versoek om te help,” het Mhaga gesê.

Volgens hom is die onlangse skietgevalle en toenemende bendegeweld in die Wes-Kaap en Gauteng ʼn reusebekommernis.

“Ons kinders het die reg om in ʼn vredevolle omgewing groot te word en as polisie is dit ons plig om daardie reg te beskerm.”

Die polisie het nie uitgebrei oor wat presies van die weermag versoek is nie en of die versoek toegestaan is nie.

Dié uitlating kom minder as twee weke voor die jongste misdaadstatistieke op 23 Oktober bekend gemaak word.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!